Fees van kultuur met kanonknal begin
Dit was 'n kuierdag, 'n saamwees dag en 'n dag om weer kultuur opnuut te leer en te waardeer. En waar dan beter as net hier op Udolpho.
Met die knalskoot van ‘n presiese replika van die 1854 Whitworth, afgevuur deur kanonier Dirk Bloem van Potchefstroom, het die heerlike kultuurfees familiekuier op die FAK se Udolpho Rivierplaas net buite Parys, Saterdag afgeskop.

Mense van heinde en ver het gekom om die dag se geniet met iets vir oud en jonk op die kultuurspyskaart. Die weer was sonnig, die mense hartlik, en die program propvol kultuurlekkerte – van sweep klap tot boeremusiek, Volkspele danse en interessante genealogie werkswinkels en praatjies, en baie meer.
Daar is op die Afrikaner kultuur gefokus, en daarmee saam ook die 100ste bestaansjaar van Afrikaans gevier.
Vandag word die vieringe op Udolpho voortgesit met Internasionale Museumdag. Die oord spog met ‘n uitsonderlike plaasmuseum wat vanoggend vir die viering tot 12:00 oop is om mense die geleentheid te gee om hier ‘n besonderse reis na gister te kan beleef.
Saterdag se kultuurfees sukses was die produk van maande se beplanning en saamwerk tussen die FAK en die Vaal Kultuurwerk met Kobie Ströh wat n pluimpie verdien vir die werk wat ingesit is om al die kultuuraktiwiteite en organiasies betrokke, saam te trek.
Een van die groot hoogtepunte was die Genealogie-aanbieding met Wilhelm Bernhardt, president van die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika, en ander sprekers soos Germaine Smith en Naomi Keyter, wat die goue reëls van genealogie kom deel het, en meer vertel het van hul eie stamboom navorsing.


Die Dagbreek dansorkes het die voete laat roer terrwyl die Volkspele laers van Erika, Aandblom en Dagbreek gewys het hoe dit gedoen moet word.



Daar was geleentheid om te leer van sweep klap. sweep vleg en rieme brei, en n selfverdediging demonstrasie deur Len le Hanie.
Die skyngeveg en laaste skoot deur Mark Wilken het ook die aandag vasgehou.
Tussendeur kon rondgesnuffel word by stalletjies, en gekyk word na die Lister en Wolseley enjins van die Stationary Engine Club. Dan was daar ook Dirk Bloem se kanonuitstalling, boekverkope, en heerlike tradisionele watertand disse soos afval, en roosterkoek op die kole.






Dit was ‘n kuierdag, ‘n saamwees dag en ‘n dag om weer kultuur opnuut te leer en te waardeer. En waar dan beter as net hier op Udolpho.







