Local newsNews

Seldsame seëluitstalling in Senotaafsaal te sien

Dié besonderse uitstalling is tot 1 Oktober te sien – genoeg tyd vir elke persoon met ’n waardering vir ons geskiedenis om meer oor die seëls te wete te kom

Seëlversamelaars en geskiedenisliefhebbers kan hulle vir ’n besonderse belewenis gereed maak,
danksy ’n splinternuwe en seldsame argivale wisseluitstalling wat tans in die Senotaafsaal van die
Voortrekkermonument te sien is. Die Erfenissentrum se argiefspan het onder meer die versameling
seëls wat destyds spesiaal uitgegee is om geld vir die oprigting van die Monument in te samel,
uitgehaal om hierdie kosbare kultuurskat vir die publiek te wys.

Seëls en koeverte wat ter viering van die volgende gebeure uitgegee is, word ook uitgestal: die 1938-
Groot Trek-eeufees, die inwyding van die Voortrekkermonument (1949), die 25ste herdenking van
die Voortrekkermonument (1974) en die 150ste herdenking van die Slag van Bloedrivier (1988).
Volgens Petra Luus, argivaris van die Erfenissentrum by die Voortrekkermonument, is die mooi
woord vir die versameling van seëls, koeverte en poskaarte filatelie, maar dit is veel meer as net
seëls versamel, verduidelik sy. “Dit behels die navorsing, katalogisering en begrip van die geskiedenis
en kulturele betekenis van seëls, want dit vertel ’n storie. Seëls is soos legkaartstukkies; hoe meer jy
voor jou kan uitpak, hoe duideliker raak die prentjie van ons verlede.”

Die personeel en tydelike poskantoor wat tydens die eeufeesviering van die Groot Trek in
1938 op die Voortrekkermonument se terrein opgerig is.

Aanloop tot die herdenking van die Groot Trek (1933-1938)
In 1933 het die Sentrale Volksmonumentekomitee (SVK), die departement van pos- en
telegraafwese genader om ’n spesiale stel seëls uit te bring, met die doel om geld vir die oprigting
van die Voortrekkermonument in te samel. Dié spesiale stel het ’n portowaarde, asook ’n
monumentboufondswaarde gehad: 1d. seël (½d. porto + ½ fonds); 1½d. seël (1d. porto + ½ fonds);
3d. seël (2d. porto + 1 fonds); 4½ d. seël (3d. porto + 1½ fonds). Die stel is in Oktober 1938 onttrek.

Groot Trek-eeufees (1938-1939)

Aan die einde van 1938 is twee nuwe stelle seëls uitgereik, naamlik die Groot Trek-eeufeesseëls en
die Voortrekkerherdenkingseëls. Albei stelle is deur die kunstenaar W.H. Coetzer ontwerp en in
Afrikaans en Engels gedruk. Dit was in poskantore reg oor die Unie te koop. Die Groot Trek-
eeufeesseëls is in die volgende reekse uitgereik: 1d., 2d., 3d. en 6d.

Die Poswese en Monumentfonds het ’n gelyke bedrag vir die seëls ontvang. Die
Voortrekkerherdenkingseëls is deur die regering uitgegee en het slegs die 1d. en die 1¼d. ingesluit.
Om te verseker dat die twee reekse verkoop, het die SVK amptelike koeverte laat druk. Die koeverte
is ook deur W.H. Coetzer ontwerp. Koeverte, wat 6 pennies per koevert gekos het, kon op die roete
van die 1938-Simboliese Ossewatrek aangekoop word, waar ossewaens die spore van die
Voortrekkers gevolg het, vanaf Kaapstad op 8 Augustus tot in Pretoria op 14 Desember.

Die koeverte (met of sonder ’n briefie binne-in) is dan op die waens na die Eeufeesposkantoor, op
die Voortrekkermonumentterrein, waar die hoeksteenlegging op 16 Desember 1938 plaasgevind
het, vervoer. ’n Tydelike poskantoor is spesiaal vir die gebeure opgerig. Hier is die koeverte met ’n
spesiale stempel gemerk en deur die departement van poswese na die persoon gestuur aan wie die
brief gerig was.

Die totale inkomste uit die verkoop van die seëls en koeverte van 1933 tot met die onttrekking op 31
Mei 1939 was £25 318.

Die reis van ‘n gedenkkoevert tydens die honderdjarige herdenking van die Groot Trek.

Inwyding van die Voortrekkermonument (1949)
Ter viering van die inwyding van die Voortrekkermonument, op 16 Desember 1949, is nog ’n stel
herdenkingposseëls uitgegee. Drie spesiale seëls, elkeen net vir die portowaarde en dus geen heffing
vir die Monumentfonds nie, is in omloop gebring. W.H. Coetzer het weer eens hierdie seëls ontwerp.
’n Tydelike poskantoor is ook in 1949 opgerig.

Voortrekkermonument word 25 (1974)
Ter viering van die Voortrekkermonument se 25ste bestaansjaar, is daar in 1974 ’n seël uitgebring
wat deur die kunstenaar Johan Hoekstra ontwerp is.

Bloedrivier: 150-jaar herdenking (1988)
Seëls en koeverte is ook met die 150ste herdenking van die Slag van Bloedrivier ontwerp. Sketse van
die tapisserieë in die Voortrekkermonument, ontwerp deur W.H. Coetzer, is vir die seëls gebruik en sluit in Die Uittog en Oor die Drakensberge. Die skildery van die Geloftekerk in Pietermaritzburg,
deur Pierneef, is ook as seël gebruik.

Volgens Luus is dié besonderse uitstalling tot 1 Oktober te sien – genoeg tyd vir elke persoon met ’n
waardering vir ons geskiedenis om meer oor die seëls te wete te kom. “Kom besigtig ons unieke
versameling seëls, koeverte en dokumente, asook die foto en tekening van hoe die poskantoor in
1938 gelyk het en waar presies dit op die Voortrekkermonumentterrein geleë was,” sê sy.

Ontwerpe van die Voortrekkermonument se inwyding-seël in 1949.

“Kom wys jou kinders en kleinkinders hoe mense voor selfone gekommunikeer het – dis baie meer
opwindend as ’n ‘WhatsApp’-boodskap!”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button