Droë krane ook Heilbron se voorland
Rand Water begin Donderdag met geskeduleerde en kritieke instandhoudingswerk in verskeie munisipaliteite wat deur Rand Water van water voorsien word.
Beplande instandhoudingswerk van Rand Water aan sy sleutel-infrastruktuur vanaf Donderdag, 29 Mei, sal ook watervoorsiening aan Heilbron raak.
Die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit het in ‘n skrywe bevestig dat inwoners van Heilbron, Phiritona en Sandersville wateronderbrekings kan verwag tydens die 16 dae instandhoudingsperiode van Rand Water wat gedoen word van 30 Mei tot 14 Junie.
Die munisipaliteit het bevestig dat hy voorsiening sal maak vir alternatiewe watervoorsiening in die groter Heilbron area tydens die 16 dae periode.
Die beplande instandhouding in gebiede wat deur Rand Water voorsien word, sal op verskillende tye en plekke oor verskeie munisipaliteite begin, het Rand Water vroeër gesê.. Die hoofinstandhoudingsoperasie is geskeduleer om op 29 Mei om 03:00 te begin en word verwag om op 2 Junie om 17:00 voltooi te wees.
Gedurende hierdie tydperk sal die pompvermoë by die Eikenhof-, Palmiet-, Mapleton- en Zwartkopjes-stelsels verminder word. Gebiede binne die stede Johannesburg, Ekurhuleni en Tshwane mag lae druk of onderbroke watervoorsiening ervaar, is vroeërr deur die watetvoorsiener gesê.
Daar is ook genoem dat instandhouding watervoorsiening aan die plaaslike munisipaliteite van Rand West, Mogale City, Merafong, Madibeng, Lesedi, Govan Mbeki, Rustenburg, Royal Bafokeng Administrasie, Victor Khanye, Thembisile Hani, Midvaal en Emfuleni kan beïnvloed.
Gebiede in die Vaaldriehoek wat geraak sal word, sluit in Bedworthpark, Sharpeville, Tshepiso, Boipatong, Vanderbijlpark, Bophelong, Bonanne en omliggende kleinhoewes. Die herstelproses van die opgaardamme sal ook dorpe soos Sasolburg, Vaalpark en omliggende dele raak.
Rand Water sê die instandhoudingswerk is strategies geskeduleer gedurende die lae verbruik maande van Mei tot Julie 2025 om ontwrigtings te minimaliseer en die potensiële impak op watervoorsiening beter te bestuur.



