Local newsNews

Dié asgat moet skuif, sê Koepel se inwoners

"Vir buitelandse besoekers is dit onverstaanbaar dat so iets letterlik op die voorstoep gesien word van 'n wêrelderfenisgebied

Boere en grondeienaars wat daagliks van die S80 gebruik maak is ongelukkig oor die stortingsterrein langs dié pad wat vir jare ‘n seer oog is, en ‘n ernstige brandgevaar inhou, veral nou gedurende die brandseisoen. Die burgerregteorganisasie AfriForum, sowel as die ouditeur-generaal het ook al hul kommer uitgespreek oor die gebrek aan beheer by Ngwathe se stortingsterreine in die dorpe Parys, Vredefort, Koppies, Heilbron en Edenville.

Die haglike toestand van die terrein wat inwoners van Vredefort al vir jare as stortingsterrein gebruik, het na groot skade weens brande in die verlede, boere van die Koepel Boerevereniging genoodsaak om self die terrein teen groot koste uit eie sak skoon te maak, walle te stoot, te omhein, en selfs borde op te sit om mense te waarsku teen onwettige storting.

Die ingang van die stortingsterrein is toe ook geskuif van die S80 na die R59-kant van die terrein. Volgens die Koepel Boerevereniging-bestuur is dit gedoen om die storting van vullis teenaan die S80 te keer. Dit het aansienlike verligting gebring, maar nie vir lank nie, omdat die munisipaliteit nie die stortingsterrein beheer nie, sê hulle.

Nou word die ingang van die R59-kant oënskynlik teruggeskuif na die S80, en is ‘n vergadering hieroor tussen die Koepel Boerevereniging-bestuur en munisipale verteenwoordigers Vrydag gehou om die kwessie te bespreek.

By navraag aan die Ngwathe munisipaliteit is bevestig dat ‘n kontrakteur teen ‘n koste van R1.6m aangestel is vir die Vredefort stortingsterrein om gehoor te gee aan die ouditeur-generaal se verslag dat die munisipaliteit sy stortingsterreine moet onderhou. Die munisipale bestuurder, dr. Fethuli Mothamaha sê die kontrakteur sal onder meer die terrein omhein, skoonmaak, en ablusie- en sekuriteitsgeriewe aanbring. Die kontrak moet tussen Julie en Oktober voltooi wees, het hy gesê.

Die boerevereniging sê egter die terrein was vroeër ‘n gruisgat wat oor jare deur inwoners as stortingsterrein gebruik is, en meen die geld wat nou by die stortingsterrein spandeer word, kon eerder by ‘n meer geskikte terrein aan die nywerheidsgebied-kant van die dorp spandeer word as stortingsterrein vir die dorp. Sodoende sou dit die onooglike gemors wegvat langs een van die toegangsroetes na die Vredefort Koepel wêrelderfenisgebied.

Hoewel die terrein buite die buffersone en kern van die Vredefort Koepel val, gebruik baie grondeienaars wat ook toerisme-aktiwiteite in die Vredefort Koepel bedryf, daagliks die pad. “Vir buitelandse besoekers is dit onverstaanbaar dat so iets letterlik op die voorstoep gesien word van ‘n wêrelderfenisgebied,” sê grondeienaar Joe Viljoen van Chazen.
Die munisipaliteit sê egter die terrein is gesoneer en gelisensieer as stortingsterrein in 2015.

Antwoorde kon egter nie teen Gazette se druktyd van die munisipale bestuur gekry word oor die teenstrydigheid van ‘n skrywe wat aan die Koepel Boerevereniging-bestuur gestuur is waarin DESTEA in 2016 klaarblyklik al nie ‘n lisensie vir die terrein wou goedkeur nie.

Mothamaha het egter volgehou al Ngwathe se stortingsterreine het lisensies, met die uitsondering van Parys en Koppies waarvoor permitte toegestaan is, maar het onderneem om op te volg oor die 2016 skrywe.

AfriForum doen jaarliks landwyd ‘n oudit van vullisterreine oor die land en het vroeër vanjaar gesê sy oudit wys dat die toestand van Ngwathe se vullisstortingsterreine, spesifiek in Parys en Heilbron, ooglopend swak was.

“Die terreine is nie behoorlik omhein nie en loop afvalwater klaarblyklik in nabygeleë waterbronne, en diere vreet die onwelriekende vullis,” sê die organisasie. Boere en grondeienaars naby die Vredefort-stortingsterrein sit met dieselfde probleem met vullis wat oorwaai van die stortingsterrein en dan deur beeste gevreet word. Dit benewens die brandgevaar.

Die ingang na die Vredefort stortingsterrein by die S80 voor dit jare gelede geskuif is

Die Boerevereniging het gesê daar word gereeld gehelp om skoon te maak by die stortingsterrein en by die R100 000 is al deur boere spandeer om te help om die terrein in orde te kry.

Daarom wil hulle graag sien dat daar samewerking is om oplossings te vind.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button