Local newsNews

Wat jy kan doen om jou versekeraar te help om jou eis te verwerk

Jou versekeraar ken nie die daaglikse besonderhede van jou huishouding nie – dis dus jou verantwoordelikheid om die inligting te verskaf wat hulle nodig het om jou terug te plaas in dieselfde posisie waarin jy was voor die verlies. Sonder hierdie bewyse kan selfs ’n geldige eis vertraag of verlaag word

Dis redelik om te sê dat baie huiseienaars hul versekeringspolisse sien as ’n soort noodvalskerm – iets wat jy eers aktiveer wanneer alles skeefloop. Tot dan toe lê dit net daar, ‘n stuk papier wat stof vergader en net uitgehaal word wanneer dit regtig nodig is – en ons hoop daardie oomblik kom nooit. Maar om jou polis werklik tot jou voordeel te laat werk, verg ‘n meer praktiese benadering. Jy mag dalk aangenaam verras wees oor hoe ver ‘n bietjie deeglikheid jou kan bring – veral wanneer jy ‘n onverwags eis moet indien.

Skade veroorsaak deur hael, water, weerlig en ander ongunstige weersomstandighede is moeilik om te voorspel, en die skade kan baie groter wees as wat huiseienaars besef.

Die goeie nuus is dat daar proaktiewe stappe is wat jy kan neem om moontlike skade te beperk. Hierdie maatreëls help nie net om stres en ongerief te verminder nie, maar kan ook die proses versnel as daar ’n eis ingedien moet word. Ryno de Kock, hoof van Verspreiding by PSG Insure, gee praktiese raad:

Maak gereelde instandhouding ’n prioriteit

Met klimaatsverandering wat toeneem, is dit belangrik om gereeld instandhouding te doen om stormskade te beperk. Die gereelde verwydering van blare, takke en ander rommel uit geute en afvoerpype kan verseker dat water tydens storms ’n vrye vloei na stormwaterdreine het. Dit kan op die lang termyn lekkasies en interne waterverskade aan jou eiendom en besittings help voorkom.

“’n Ander belangrike aspek is dakonderhoud. Huiseienaars moet hul dakke nagaan vir gebreekte of beskadigde dakteëls. Selfs klein skade aan ’n teël kan ’n swak punt verteenwoordig wat met tyd vererger wanneer dit blootgestel word aan wind, hael of reën. Waterdigting is ook noodsaaklik, nie net om jou eiendom teen skade te beskerm nie, maar ook om jou dak se lewensduur te verleng en die groei van muf en skimmel te voorkom,” sê hy.

Weerligslae kom toenemend voor in sekere gebiede. Om die impak van weerlig te verminder, kan oorspanningsbeskerming by die verspreidingsbord geïnstalleer word, of op proppe vir elektroniese toestelle gebruik word. Hierdie maatreël het veral belangrik geword weens beurtkrag, wat tot kragstuwing lei wanneer die elektrisiteit weer aangeskakel word.

Ken jou polis se vereistes

Gereelde instandhouding is nie net effektief om onnodige eise te voorkom nie, maar is ook nodig om aan polisvereistes te voldoen. Die meeste versekeringspolisse bevat bepalings dat die polishouer alle redelike stappe en voorsorgmaatreëls moet tref om ongelukke of verliese te voorkom.

De Kock waarsku dat elke polis terme en voorwaardes bevat wat nagekom moet word om ’n geldige eis in te dien. Hierdie voorwaardes verskil van polis tot polis en hang af van faktore soos jou risikoprofiel, geografiese ligging, vervangwaarde van die eiendom en vlak van dekking.

“Byvoorbeeld, in gebiede waar daar meer diefstal van toebehore voorkom, kan versekeraars strenger onderskrywingsvoorwaardes stel. Dit kan insluit dat ekstra sekuriteitsmaatreëls by die perseel geïnstalleer moet word. In sulke gevalle is dit die verantwoordelikheid van die huiseienaar om aan hierdie vereistes te voldoen sodat eise uitgekeer kan word.”

Hou jou rekords op datum

Nog ’n dikwels oorgesiene, maar noodsaaklike aspek is rekordhouding. Omdat versekeringspolisse gewoonlik gebaseer is op vervangwaarde, is dit belangrik dat jou huis en inhoud vir hul huidige vervangwaarde verseker is – en nie op ou waardasies of markwaarde nie.

De Kock sê dat as die vervangwaarde nie akkuraat bereken is nie, die eiendom onderverseker sal wees. Tydens ’n eis sal die versekeraar die “gemiddeldetoestand”-klousule toepas, wat beteken die polishouer moet self ’n gedeelte van die verlies dra.

Dis raadsaam om duidelike foto’s van waardevolle items te neem, kwitansies en waarborge te digitaliseer en handleidings te bewaar. Hierdie dokumentasie dien as bewys van eienaarskap en help versekeraars om vinniger en meer akkuraat op te tree.

“Jou versekeraar ken nie die daaglikse besonderhede van jou huishouding nie – dis dus jou verantwoordelikheid om die inligting te verskaf wat hulle nodig het om jou terug te plaas in dieselfde posisie waarin jy was voor die verlies. Sonder hierdie bewyse kan selfs ’n geldige eis vertraag of verlaag word,” sluit De Kock af.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button