Hof beveel ingryping ná Ngwathe versuim om sy plig na te kom
AfriForum het vandag ’n deurslaggewende oorwinning behaal in die Vrystaatse hooggeregshof in Bloemfontein toe uitspraak in die burgerregte organisasie se guns en in die belang van die inwoners van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit gelewer is.
Die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit kom nie sy grondwetlike, wetlike en administratiewe verpligtinge teenoor die inwoners van onder meer Parys, Heilbron, Koppies en Vredefort na nie, en moet die Ngwathe munisipale raad in terme van ’n gestruktureerde hofinterdik ontbind. Die Vrystaatse provinsiale regering moet ook ingevolge die hofuitspraak met onmiddellike effek by dié munisipaliteit ingryp.
Regter J.P. Daffue het vandag in die Hoë Hof in Bloemfontein in die guns van AfriForum beslis wat die aansoek na die hof gebring het. In sy uitspraak het Daffue benadruk dat die munisipaliteit en sy raad disfunksioneel is en dat provinsiale regeringsdepartemente, en die LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (SRTS) in die besonder, versuim het om in ooreenstemming met die grondwet by die munisipaliteit in te tree. Hy het daarop gewys dat dié saak ’n geskikte geval is waarby die hof die rol as waghond moet speel.
Kragtens Daffue se uitspraak moet die Vrystaatse premier, die provinsie se uitvoerende raad en die ander betrokke respondente in die saak nou binne die raamwerk van artikel 139(5)(a) en (b) van die Grondwet:
- ’n herstelplan implementeer om dienslewering te herstel en toe te sien dat die munisipaliteit sy finansiële verpligtinge nakom;
- die Ngwathe- munisipale raad ontbind en ’n administrateur aanstel totdat ’n nuwe munisipale raad verkies kan word; en
- ’n tydelike begroting, inkomste-genererende maatstawwe of enige ander maatstawwe goedkeur wat uitvoering sal gee aan die herstelplan.
Die hof het verder beveel dat die premier van die Vrystaat sowel as die uitvoerende raad en die LUR’e vir SRTS, Finansies en Ekonomiese, Kleinsakeontwikkeling, Toerisme en Omgewingsake elke drie maande, onder eed en skriftelik, aan die hof verslag moet doen oor die vordering in die implementering van die bevel.
Daffue het ook beveel dat die Ngwathe-munisipaliteit tesame met agt ander respondente in die saak, waaronder die premier, AfriForum se regskoste moet betaal.
Die Ngwathe munisipaliteit het in antwoord op die hofuitspraak, in ‘n amptelike verklaring gesê dat die munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, rdl. Victoria de Beer-Mthombeni, kennis neem van die uitspraak, en die Bloemfonteinse Hoë Hof se beslissing respekteer. Nadat die detail van die uitspraak deurgegaan is, sal prosesse wat nou gevolg moet word, so gou moontlik gekommunikeer word, is gesê.
Dienslewering
Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivierstreek, het die uitspraak bestempel as ’n reuse oorwinning vir inwoners wat reeds jare lank die slagoffers is van swak dienslewering weens ongekende verval en onbevoegdheid in dié munisipaliteit.
Luidens AfriForum se hofstukke gaan inwoners van Ngwathe gebuk onder ernstige watertekorte en -besoedeling, ’n sanitasiekrisis en vervalle infrastruktuur, terwyl bestuurs- en finansiële probleme, en wanbestuur ten bedrae van miljoene rande ook dié munisipaliteit kenmerk.
“AfriForum het namens inwoners ingegryp toe die plaaslike én provinsiale regering versuim het om hul grondwetlike verpligtinge na te kom. Hierdie uitspraak bring nie net geregtigheid nie, maar gee ook die regsgronde vir daadwerklike optrede. Die regering het nie meer ’n keuse nie – hulle móét ingryp,” sê Pretorius.
AfriForum sê hy sal die proses nougeset monitor.
Jarelange stryd
Volgens Schalk Burger, voorsitter van AfriForum se Parys-tak, was dit ’n jarelange stryd om tot hier te kom, maar “die oorwinning is soet”. Burger sê hulle is baie dankbaar vir die ondersteuning van Save Ngwathe en die dorp se inwoners wat altyd gehelp het met die ondersoeke wat AfriForum gedoen het. “AfriForum is dalk nie elke dag op die voorgrond in Parys nie, maar agter die skerms het ons werklik baie hard gewerk om by hierdie dag uit te kom,” het Burger gesê.
Corné Cronjé, hoof van Strukture by AfriForum, het beklemtoon dat die oorwinning in die belang van die mense van Parys en die omliggende dorpe in die Ngwathe-munisipaliteit is wat etlike jare al nie van die mees basiese dienste, soos skoon water en elektrisiteit, voorsien word nie. “Ons glo en hoop dat hierdie herstelplan wat die provinsiale regering nou moet instel, ’n daadwerklike verskil teweeg sal bring en dat bevoegde kontrakteurs nou aangestel sal word,” sê Cronjé.
Pretorius het inwoners en die organisasie Save Ngwathe bedank wat die stryd saam met AfriForum aangepak en enduit geveg het en aan AfriForum waardevolle inligting in die takeling van dié saak voorsien het.
AfriForum het weer ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om betrokke te bly, onreg te rapporteer en saam te werk aan die heropbou van verantwoordbare plaaslike regering. Die hofuitspraak is ’n mylpaal in AfriForum se breër veldtog teen plaaslike regeringsverval in die land.



