Drie op borg vir koperdiefstal by myn steeds soek
Twee van die vyf verdagtes wat in April in hegtenis geneem is, is vandeesweek gevonnis, terwyl drie wat gevlug het nadat hulle vroeër borg gekry het, steeds soek is.
Drie Suid-Afrikaanse burgers wat op borg uit was vir klagte van diefstal van koper by die Impala-myn, is steeds soek. Nog twee verdagtes wat saam met hulle gearresteer is, is egter vandeesweek gevonnis.
Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het die vonnisse wat deur die Bafokeng Streekhof opgelê is aan die twee Lesotho-burgers, verwelkom. Bokang Molapisi (46) en Josias Mokgatja (35) ,i s tot 12 jaar direkte gevangenisstraf gevonnis vir die diefstal van koper, en ’n bykomende ses maande vir die oortreding van Artikel 49(1)(a) van die Immigrasiewet, 2002. Hulle is ook onbevoeg verklaar om vuurwapens te besit, en die hof het beveel dat hulle na Lesotho gedeporteer moet word nadat hulle hul vonnisse uitgedien het.
Ondersoeke onder leiding van adjudant-offisier Petros Matshego het aan die lig gebring dat ’n groep van vyf mans op 14 April na die Impala-myn naby Rustenburg gegaan het om koperdraade te steel. Hulle is deur mynsekuriteitsbeamptes wat op patrollie was, betrap. Die polisie is ontbied, wat tot die inhegtenisname van al vyf verdagtes gelei het. Drie van die beskuldigdes, almal Suid-Afrikaanse burgers, is later op borgtog vrygelaat, maar het intussen gevlug en word steeds gesoek. Tydens die verhoor het die twee Lesotho-burgers skuld beken op beide aanklagte.
Die gesteelde koperdrade het ’n waarde van R57 418,96, en is gebruik om beligting te voorsien, CCTV-kameras van krag te voorsien, en die stelsel wat werknemers ondergronds vervoer, te laat werk.
In haar uitspraak het landdros Tabeah Matshabe opgemerk dat hoewel albei mans eerste oortreders is en skuld erken het, die hof nie die erns en algemeenheid van koperdiefstal kon ignoreer nie, aangesien dit die ekonomie ondermyn en noodsaaklike dienste ontwrig.
Die Direkteur van Openbare Vervolgings in die Noordwes, dr. Rachel Makhari, het die uitspraak verwelkom en die werk van aanklaer Mpayipheli, adjudant-offisier Matshego, en alle rolspelers wat by die skuldigbevinding betrokke was, geloof. Sy het die NVG se verbintenis herbevestig om nou saam met wetstoepassingsvennote te werk om te verseker dat oortreders van koperdiefstal die volle mag van die reg in die gesig staar, aangesien hierdie misdade die land se ekonomiese stabiliteit bedreig.



