84 Onpadwaardige voertuie van die pad af gehaal
Gautengse wetstoepassers sal voortgaan om oortreders van pad- en verkeersregulasies op die provinsie se paaie vas te trek, is gesê.
Die Gautengse Departement van Paaie en Vervoer het deur sy wetstoepassingseenheid, ’n totaal van 84 onpadwaardige voertuie uit diens gestel tydens intensiewe stop-en-deursoek-operasies wat tussen 3 en 9 November uitgevoer is.
Die operasies vorm deel van die Gautengse Provinsiale Regering se omvattende padveiligheidstrategie wat daarop gemik is om wetteloosheid te bekamp, nakoming van verkeersregulasies te verbeter, en die lewens van alle padgebruikers in die provinsie te beskerm.
Die voertuie wat uit diens gestel is, het nie voldoen aan padveiligheidstandaarde nie, wat onder meer foutiewe remme, verslete bande en voertuigligte wat nie werk nie, insluit.
Benewens die voertuie wat uit diens gestel is, was daar ‘n kommerwekkende aantal openbare vervoeroperateurs wat nie aan verkeersregulasies voldoen het nie.
Van die ortredings wat gedurende die weeklange operasie aangeteken is, sluit in:
• 54 minibustaxi’s wat sonder geldige lisensieskyfies bedryf is
• 40 minibustaxi’s wat weens meganiese en veiligheidsgebreke uit diens gestel is
• 72 bestuurders wat sonder geldige bestuurslisensies gewerk het

’n Totaal van 1 539 kennisgewings van oortredings is uitgereik vir verskeie verkeers- en vervoerverwante oortredings.
Hiervan was 557 met die hand geskryf, en 982 elektronies verwerk — ’n bewys van die Departement se verbintenis om tegnologie te gebruik om nakoming en aanspreeklikheid te bevorder.

Die LUR vir Paaie en Vervoer, Kedibone Diale-Tlabela, het die Gautengse wetstoepassers geloof die konsekwente en pro-aktiewe optrede, en die Departement se nulverdraagsaamheidsbenadering teenoor nie-nakoming bevestig.
“Die uit diens stel van onpadwaardige voertuie is ’n noodsaaklike stap om lewens op ons paaie te beskerm. Openbare vervoeroperateurs moet verstaan dat nie-nakoming nie geduld sal word nie. Ons bly vasbeslote in ons missie om veiliger paaie te skep en orde binne die openbare vervoersektor te herstel,” het LUR Diale-Tlabela gesê.
Die span van 96 hoogs opgeleide beamptes van die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) bestaan, sal voortgaan om geteikende handhawingsoperasies regoor Gauteng uit te voer om onpadwaardige voertuie te identifiseer en te verwyder, onwettige operateurs aan te keer en nakoming van padveiligheidstandaarde af te dwing, is gesê.



