’n Speurder verbonde aan die Veediefstal- en Bedreigde Spesies-eenheid in Fouriesburg is op Vrydag, deur die Valke se Eenheid vir Ernstige Georganiseerde Misdaadondersoek in Bethlehem gearresteer nadat onder meer beslag gelê is op selfone, onafgehandelde dossiere, polisiesregisters en ammunisie wat by sy huis gekry is. Dit is die tweede keer hierdie maand dat dieselfde beampte gearresteer is, het Valke-woordvoerder, adjudant-offisier Fikiswa Matoti gesê.
Vroeër in November het ’n deursoeking by sy woning gelei tot die ontdekking van ’n ongelisensieerde vuurwapen. Hy is gearresteer, het in die hof verskyn en is daarna op borgtog vrygelaat.
Die verdagte sal binnekort in die Bethlehem-landdroshof verskyn op aanklagte van die onregmatige besit van ammunisie en die besit van vermeende gesteelde eiendom.
Die provinsiale hoof van die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoeke (Valke), majoor-generaal Mokgadi Bokaba, het na die arrestasie gesê die Valke bly daartoe verbind om misdadigheid uit te roei, ook onder diegene in uniform wat hulle sou skuldig maak aan die oortreding van die wet.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!