Local newsNews

Geslagsgeweld: Kyk ook na digitale teistering

Die 16 Dae Aktivisme veldtog teen geweld teen vroue en kinders loop vandag ten einde.

Gelsagsgebaseerde geweld is nie net beperk tot fisiese geweld en mishandeling nie. Emosionele aftakeling gebaseer op geslag, finansiële magsmisbruik, maar veral ook digitale teistering wek al groter kommer.

Daarom is digitale geweld deur die Vernigde Nasies uitgelig as universele tema van vanjaar se internasionale 16 Dae Aktivisme veldtog teen Geweld teen Vroue en Kinders. Die veldtog loop vandag ten einde.

Meer klem word ook vanjaar gelê op gemeenskappe se gesamentlike aanspreeklikheid wanneer dit kom by die beeïndiging van geslagsgebaseerde geweld.

Wat word bedoel by digitale geweld?

Digitale geweld sluit onder andere in aanlynteistering, kuberboeliery, wraakpornografie, “doxxing” (die publikasie van persoonlike inligting), anonimiteitaggressie (die gebruik van anonieme rekeninge op sosiale media om iemand te teiken), verpersoonliking (nabootsing), dreigemente via e-pos of sosiale media en haatspraak.

Parys GPF het sy volle steun aan die veldtog gegee. GPF-voorsitter, Annemarie du Toit, het ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om enige daad van geweld wat iemand skade berokken en gedryf word deur mag of beheer, nie net in die 16 dae veldtog-tydperk aan te meld nie, maar deurentyd die gemeenskap se fokus moet wees.

” Ongelykhede wat deur maatskaplike norme of instellings gedryf word, patriargale norme en magstrukture, diskriminasie in skole, werkplekke of toegang tot dienste wat vroue en kinders kwesbaar maak, word ook deur geslagsgebaseerde geweld omvat en moet beeïndig word. Slagoffers ervaar dikwels meervoudige gevolge, soos trauma, gesondheidsprobleme ekonomiese afhanklikheid en sosiale stigma, as gevolg van hierdie ongeregtighede.”

In Suid-Afrika plaas beide die Wet op die Bekamping van Gesinsgeweld 16 van 1998 soos gewysig deur die Wysgingswet op Gesinsgeweld 14 van 2021 (DVA) en die Misdaadwet (Wysiging van Geslagsmisdade en Verwante Sake) Wet 32 van 2007 (SOA) ‘n plig op die Suid Afrikaanse Polisiediens (SAPS) om slagoffers van GBV by te staan met onder andere die verkryging van ‘n beskermingsbevel teen die oortreders.

Du Toit sê die Parys GPF is in hierdie opsig verbind om nou saam met SAPS te werk in die bekamping van GBV.

Sy sê aanlynruimtes behoort vroue en meisies te bemagtig maar het verander in ‘n mynveld van teistering, misbruik en beheer. Wat klein kan begin op skerms – ‘n boodskap, ‘n kommentaar of ‘n plasing – kan vinnig in ‘n stroom dreigemente en geweld in die werklike lewe ontaard. Privaat foto’s word sonder toestemming gesteel. Leuens versprei binne sekondes. Liggings word opgespoor. Kunsmatige Intelligensie word bewapen om diep vervalsings (deep fakes) te skep wat ontwerp is om vroue te beskaam en stil te maak.

Volgens die Verenigde Nasies wys die statistieke dat 1 in elke 3 vroue geslagsgebaseerde geweld in hul leeftyd beleef; dat 58 % van vroue en meisies digitale geweld beleef; en dat 90 % van diep vervalsings seksuele foto’s van vroue is.

Agter elke statistiek is daar vroue en kinders

Joernaliste wat ophou skryf na doodsdreigemente, aktiviste wat hul rekeninge uitvee om hul gesinne te beskerm, meisies wat selfvertroue verloor voordat hulle selfs hul stemme gevind het, vroue wat agtervolg, verkrag of selfs vermoor word. Die skade mag aanlyn gebeur, maar die impak daarvan is pynlik werklik en sypel in huise, werkplekke en gemeenskappe in. Wanneer hierdie giftige idees en misleidende inligting viraal gaan, vorm dit ‘n beeld van hoe generasies vroue en meisies sien en behandel.

Jy kan betrokke raak in die stryd teen GBV, deur eenvoudig die stilte te verbreek – spreek jou uit teen geweld, teen skadelike aanlyn norme en ondersteun slagoffers. Deur eenvoudig ‘n slagoffer die voordeel van die twyfel te gee wanneer so ‘n slagoffer GBV by jou aanmeld, kan jy ‘n positiewe verskil maak in daardie slagoffer se lewe, het Du Toit benadruk.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button