Local newsNews

Grootste Geloftedag in dekades by Monument gevier

Presies om 12:00 het die son die woorde “Ons vir jou Suid-Afrika” op die senotaaf verlig wat as ’n geestelike hoogtepunt van Geloftedag by die Voortrekkermonument gesien word.

Nagenoeg 40 000 mense het vandag op 16 Desember by die Voortrekkermonument byeen gekom vir die jaarlikse herdenking van die Gelofte wat die Voortrekkers in 1838 voor die Slag van Bloedrivier afgelê het. Dit was die grootste Geloftedag-viering by die Monument in dekades.

Vanjaar is bykans 230 Geloftefeeste landwyd gehou, en is die dag ook in die buiteland op al sewe vastelande in 25 lande gevier –  selfs in Antarktika.

Die 2025-viering by die Monument is gekenmerk deur ’n massa-samekoms van
geloof, geskiedenis en gemeenskap.

Vanjaar se gedenkdag was anders – nie net in skaal nie, maar in die intensiteit van
die gemeenskaplike deelname en die gevoel van gemeenskaplike
geskiedenisherinnering wat dit vir elke besoeker geskep het, sê Dawid Brand, bedryfshoof: media, bemarking en toerisme van die Kultuurtuiste.

Die dag het om 06:00 in die koel oggendure afgeskop met families en vriende van
heinde en verre uit verskeie provinsies, asook internasionale besoekers, wat met
stille verwagting begin instroom het.

Ná die samesang in ’n stampvol amfiteater het dr. Danie Langner, besturende
direkteur van die Kultuurtuiste, die duisende besoekers verwelkom. Die atmosfeer
het ’n ekstra gevoel van ontsag gekry toe ’n indrukwekkende kanonskoot deur ’n
splinternuwe replika van kanon Grietjie afgevuur is. Die oorspronklike kanon Grietjie,
wat by Bloedrivier gebulder het, staan vandag in die Senotaafsaal van die
Monument.

Replika van die kanon Grietjie by die Voortrekkermonument.
Die replika van die kanon Grietjie by die Voortrekkermonument. Foto: Verskaf

Een van die hoogtepunte van die oggend was die lees van die Gelofte deur Raynard
Bosman, ’n graad 11-leerling aan die Hoërskool Pretoria-Noord en die wenner van
die FAK se Geloftedagkompetisie. Sy voordrag het nie net die bekende woorde van
die Gelofte opgeroep nie, maar ook wat dit vir toekomstige geslagte beteken.

Dr. Dewyk Ungerer se woordverkondiging het nie net op die historiese gebeurtenisse
van 1838 gefokus nie, maar die dag se sentrale tema – geloof, genade en
dankbaarheid – toegelig.

Ter afsluiting het Sallas de Jager, Logan Pietersen en Franco Jamneck “Die
Geloftelied” uit die pen van Johan Vorster en Appel gesing, ’n roerende lied wat eie
aan Geloftedag by die Voortrekkermonument geword het.

Seën en son versmelt

Presies om 12:00 het die wonder van die wetenskap en die simboliek van God se
seën versmelt toe die son die woorde “Ons vir jou Suid-Afrika” op die senotaaf verlig
het. Hierdie oomblik word as ’n geestelike hoogtepunt van Geloftedag gesien en het
nie teleurgestel nie – dit het ’n gevoel van stilte en heilige eerbied by oud en jonk
geskep.

Son skyn op die senotaaf by die Voortrekkermonument
Presies om 12:00 het die son die woorde, “Ons vir jou Suid-Afrika” op die senotaaf by die Voortrekkermonument verlig. Foto: Verskaf

Geloftedag by die Voortrekkermonument het na beraming die grootste bywoning in
etlike dekades gehad, maar “Geloftedag se simboliek en diepgang word nie in getalle gemeet nie, maar in die wete dat God gister en vandag getrou is, en dat ons deur Sy genade alleen ’n
hoopvolle toekoms net hier kan bou,” het Brand gesê..

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button