Drie sterf in nog twee noodlottige ongelukke
Hoë volumes verkeer word op al die land se hoofroetes oor die naweek verwag.
Twee ongelukke op die R57 en N1 onderskeidelik, het vanoggend die lewens van drie mense ge-eis.
Volgens Sipho Towa, voorsitter van RIMS (Road Incident Management System), het ‘n ligte afleweringsvoertuig en ‘n motor in die vroeë oggendure by die Heilbron-kruising op die R57 gebots.
Die afleweringsvoertuig was van Vanderbijlpark na ‘n inisiasieskool in Heilbron onderweg toe die ongeluk gebeur het.

Een persoon is onderweg na die hospitaal oorlede. Sewentien ander insittendes is in die botsing beseer waarvan 1 kritiek. Die beseerdes is na die Tokollo-hospitaal in Heilbron vervoer.
In nog ‘n voorval net voor 05:00 vanoggend is twee mense dood en talle beseer in ‘n taxi-ongeluk op die N1-hoofweg net oor die Vaalrivier-brug aan Gauteng-kant.
Die taxi met 15 insittendes was onderweg van die Oos-Kaap na Johannesburg toe die ongeluk gebeur het.
Onlangse data wat deur die Padverkeerbestuurskorporasie (RTMC) vanaf 1 Desember 2025 oor die Feestyd ingesamel is, het getoon dat tot 6% van noodlottige ongelukke tussen middernag en 01:00 gebeur.
Motoriste is gewaarsku dat daar veral oor die naweek hoë verkeersvolumes op al die land se hoofroetes verwag kan word en dat gehou moet word by padverkeersreëls en spoedbeperkings.



