Chubby Chick-skietvoorval: Beskuldigde weer in absentia voor die hof
Joubert het sedert die skietvoorval nog nie in persoon in die hof verskyn nie en word steeds in 'n Potchefstroomse hospitaal behandel.
Die 73-jarige Robbert Joubert het vanoggend weer in absentia voor die Potchefstroomse landdroshof verskyn vir die dubbele moord op die broers, Deon en Johnathan Fourie, direkteure van die Chubby Chick-onderneming in Potchefstroom.
Joubert se volgende hofverskyningsdatum is 30 Januarie, het polisiewoordvoerder kolonel Adele Myburgh bevestig.
Deon Fourie het op 14 Desember aan sy wonde beswyk, net meer as ‘n maand na die skietvoorval in die onderneming se raadsaal waartydens Deon ernstig beseer, en sy broer, Johnathan, noodlottig gewond is.
Deon was sedert die skietvoorval op 10 November in ‘n Johannesburgse hospitaal waar hy verskeie operasies ondergaan het.
Joubert is in beide arms gewond toe sekuriteitspersoneel gereageer het op die skietvoorval in die raadsaal, en is steeds in die Potchefstroomse provinsiale hospitaal.
Hy het sedert die skietvoorval nog nie in persoon in die hof verskyn nie weens die erns van sy beserings.
Chubby Chick het vroeër in ‘n verklaring benadruk dat Joubert geen verbintenis met Chubby Chick het nie, en nie ‘n werknemer, oud-werknemer of kontrakteur was nie.
Volgens die verklaring is ’n vergadering tussen die broers en die beskuldigde gehou, vermoedelik oor ’n eiendomstransaksie. Luidens die verklaring is Deon en Johnathan ongeveer 30 minute na die vergadering geskiet. Op daardie stadium was Deon steeds in die raadsaal en is hy verskeie kere geskiet. Hy het om hulp geroep, waarna Johnathan onmiddellik gereageer het, en toe ook verskeie kere geskiet is.




