50 Jaar van TV in SA gevier
Dalk het jy ook nog herinneringe aan die TV-karakters Sarel Seemonster en Karel Kraai wat in die beginjare van TV in SA op die kassie gesien is.
Vandag, 50 jaar gelede is gereelde daaglikse televisie-uitsendings in 1976 die eerste keer in Suid-Afrika gesien.
Aanvanklik was daar net een tweetalige kanaal wat in Afrikaans en Engels uitgesaai het.
Van die eerste Afrikaanse kinderprogramme waarmee kykers in Suid-Afrika sou kennis maak was die baie gewilde Wielie Walie met die karakters Sarel Seemonster en Karel Kraai.
Nog twee nuwe kanale, TV2 en TV3 het later in Januarie 1982 gevolg en is daar toe ook in die tale Zoeloe, Xhosa, Sotho en Tswana uitgesaai. In 1996 is die SAUK se kanale aangepas en hernoem na SABC 1, 2 en 3.

‘n Groot mylpaal het in Oktober 1986 gevolg toe Suid-Afrika sy eerste betaalkanaal gekry het met M-Net wat vir 12 uur per dag begin uitsaai het in Johannesburg en Pretoria.
‘n Toegewyde sportkanaal op M-Net, SuperSport, is in 1988 bekendgestel, en het M-Net ook gesorg dat kykers vasgenael gesit het vir die land se eerste tweetalige sepie, Egoli: Plek van Goud wat in 1992 sy eerste episode op die kassie gehad het. Die sepie sou uiteindelik 18 jaar lank ‘n tydgleuf in Suid-Afrikaanse huishoudings hê.
Die SAUK se eerste TV-sepie, 7de Laan, het heelwat later gekom in 2 000, en is in 2023 gestaak.
DStv is in 1995 deur MultiChoice bekendgestel, wat ook in 2015 kon spog met die eerste plaaslike stromingsdiens, Showmax.
Netflix is in 2016 in verskeie lande waaronder ook Suid-Afrika bekendgestel.
Na 50 jaar is TV nog net so gewild in SA en ‘n bron van vermaak vir baie.



