Local newsNews

Matriekprestasie: Opvoeding bou ‘werksyn’ en keer afhanklikheid

Minister se oproep tot vroeër ingryping, sterker ondersteuning in sleutelvakke en die aanspreek van uitvalsyfers verwelkom.

Volgens die minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube, is die nasionale slaagsyfer van 88% wat deur vanjaar se matrikulante wat die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS)-eksamen behaal is,  die hoogste is wat nog sedert die instelling van die huidige NSS-stelsel, en binne ’n inklusiewe onderwysbedeling, behaal is.

Leerders wat die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) deur die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) afgelê het, het ook uitgestaan met ’n algehele slaagsyfer van 98,31%.

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, het met die gelukwense van die 2025 matrikulante gesê die resultate wys dat harde werk en deursettingsvermoë vrugte afgewerp het.

“Opvoeding is die sleutel tot ‘werksyn’, en ‘werksyn’ lei tot volhoubare welstand, nie welsyn-afhanklikheid nie,” het Noëth beklemtoon.

“Werksyn beteken om mense deur opleiding en werk te bemagtig om selfstandig welstand te bou, eerder as om afhanklik van welsyn te wees. ’n Hoë slaagsyfer is ’n belangrike beginpunt, maar die ware maatstaf van sukses lê daarin wat daarna volg. Wanneer jongmense toegang kry tot verdere onderrig, opleiding, vaardigheidsontwikkeling en werk, word hulle bemagtig om selfstandig hul toekoms te bou en betekenisvol by te dra tot hul gesinne, gemeenskappe en die ekonomie,” het Noëth bygevoeg.

Solidariteit Helpende Hand se Opleidingsinstituut in Pretoria speel  ’n sleutelrol om werksyn in praktyk om te sit deur onder meer tuisversorgers op te lei vir indiensneming in die gesondheids- en versorgingsektor.

Dié geakkrediteerde opleiding fokus op praktiese vaardighede, menswaardigheid en professionele etiek, en stel studente in staat om vinnig die arbeidsmark te betree en ’n volhoubare inkomste te verdien.

Die Opleidingsinstituut neem steeds nuwe innames vir vanjaar en bied aan studente ’n konkrete volgende stap vanaf skool of loopbaanverandering na betekenisvolle werk wat werklik in gemeenskappe ’n verskil maak, sê Noëth.

Solidariteit Helpende Hand het ook daarop gewys dat die groot aantal leerders wat universiteitstoelating behaal het, die fokus nou verskuif na tersiëre opleiding. Deur die organisasie se Studietrust word tersiëre onderrig vir studente moontlik gemaak deur rentevrye studielenings, sodat finansiële struikelblokke nie talent en potensiaal in die kiem smoor nie.

Die organisasie het die minister se oproep tot vroeër ingryping, sterker ondersteuning in sleutelvakke en die aanspreek van uitvalsyfers verwelkom en voeg by dat volhoubare oplossings nie lê in afhanklikheid nie, maar in doelgerigte belegging in mense se vermoë om te leer, te werk en selfstandig te leef.

Solidariteit Helpende Hand glo dat elke jongmens wat deur opleiding bemagtig word, ’n bewys is dat werksyn die pad is na blywende welstand en ’n sterker, meer weerbare samelewing.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button