Rand Water sê sy kraanwater is veilig
Rand Water het gereageer op 'n WhatsApp-klankgreep wat op sosiale media versprei word wat mense waarsku om water eers te kook.
Rand Water sê hy bly verbind tot die beskerming van verbruikers se gesondheid en dat verbruikers water wat deur Rand Water voorsien word, steeds veilig direk uit die kraan kan drink.
Die grootmaat waterskaffer het gereageer op ‘n WhatsApp-klankgreep wat tans op sosiale media versprei word waarin beweer word dat die “dam vergiftig is” en dat kraanwater nie gedrink moet word nie, tensy dit eers gekook word.
Volgens Rand Water het onlangse watergehaltetoetse weer bevestig dat sy behandelde grootmaatwatervoorraad ten volle aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Standaard vir Drinkwater (SANS 241) voldoen en dat hy daarom die bewerings kategories as vals en misleidend.
Rand Water sê verder hy onttrek rou water uit die Vaaldam, wat ’n omvattende behandelingsproses ondergaan voordat dit aan verbruikers voorsien word. “Deeglike en deurlopende toetse word op sowel die rou water as die behandelde grootmaatwater uitgevoer voordat dit aan verbruikers, insluitend munisipaliteite, versprei word.”
Rand Water het ook benadruk dat sou daar enige grootmaatwaterverwante probleme ontstaan, dit formeel deur sy amptelike kommunikasiekanale met verbruikers gekommunikeer sal word.
Rand Water het kliënte en inwoners aangemoedig om eerder op Rand Water se amptelik geverifieerde platforms staat te maak vir akkurate en geloofwaardige inligting oor drinkwatergehalte.
- In die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit wat die dorpe Parys, Vredefort, Heilbron, Edenville en Koppies insluit, word net Heilbron deur Rand Water van drinkwater voorsien.



