Kommer oor beduidende toename in velkankergevalle in SA
Suid-Afrika het die hoogste voorkoms van nie-melanoom velkanker in Afrika
Een van die land se grootste administrateurs van mediese skemas moedig Suid-Afrikaners aan om deur die jaar bedag te wees op sonveiligheid en gereelde siftingstoetse te ondergaan, met ’n beduidende en kommerwekkende tendens in die aantal velkankergevalle wat gesien word. .
Universal Healthcare, wat talle geslote en oop mediese skemas vir ’n breë en diverse ledetal administreer, sê daar is ’n toename van 130% in lede met nie-melanoom velkanker oor ’n tydperk van agt jaar gesien.
“Hierdie opwaartse tendens oor ’n betreklik kort tydperk kan toegeskryf word aan ’n groeiende bewustheid van velkankersifting,” sê dr. Odwa Mazwai, besturende direkteur van Universal Care.
Gereelde velkankersifting maak vroeë diagnose en doeltreffende behandeling moontlik.
Suid-Afrika het die hoogste voorkoms van nie-melanoom velkanker in Afrika. Verder word voorspel dat die aantal nuwe gevalle van nie-melanoom velkanker wat hier geïdentifiseer word teen 2030 met 28% en teen 2040 met 73% sal toeneem.
Daar is drie hoofsoorte velkanker: basaalselkarsinoom, plaveiselkarsinoom en melanoom. Nie-melanoom verwys na basaalsel- en plaveiselkarsinome, wat makliker behandel kan word indien dit vroeg gediagnoseer word. Melanoom word gelys onder die tien mees algemene kankers wat in Suid-Afrika gediagnoseer word, volgens die 2023 Suid-Afrikaanse Kankerregister.
Hoewel die voorkoms van melanoom betreklik konstant gebly het in sowel die Universal-skema-bevolking as in die algemene Suid-Afrikaanse bevolking, word voorspel dat die aantal nuwe melanoomvelkankergevalle wat in Suid-Afrika geïdentifiseer word teen 2030 met 24% en teen 2040 met 62% sal toeneem.
’n Langtermynbeskouing
Dr. Mazwai wys daarop dat ’n proaktiewe benadering tot sonbeskerming en velkankersifting die impak van velkanker oor tyd kan verminder, ook wat betref gesondheidsorgkoste.
“As ons na die ouderdomsprofiel van nie-melanoom velkanker kyk, gee dit ‘n duidelike beed van die gevolge van leefstylgedrag so ver as 60 of 70 jaar later. Slegs 11,6% van velkankerpasiënte is tussen 18 en 49 jaar oud, 41,9% is tussen 50 en 69, en 46,5% is ouer as 70 jaar.
“Velkanker kan op enige ouderdom voorkom, maar die meeste pasiënte word eers ná die ouderdom van 50 gediagnoseer, al vind die meerderheid sonblootstelling vroeër in die lewe plaas. Sonveilige praktyke is dwarsdeur jou lewe noodsaaklik.”
Jaarlange bewusmaking
“Suid-Afrika het ’n ryk geskiedenis van buitelugsport en -aktiwiteite deur die jaar danksy ons sonnige weer. Ons sien ook ’n groeiende belangstelling in buitelug- en sosiale fiksheidsgeleenthede, wat dikwels met sonblootstelling gepaard gaan. Dit is daarom noodsaaklik om bewus te wees dat die risiko’s wat met sonblootstelling gepaard gaan, deur al die seisoene voortduur, veral aangesien ons soveel sonskyndae per jaar het,” sê hy.
Dr. Mazwai voeg by dat Suid-Afrika ’n gemiddelde ultraviolet (UV)-stralingsindeks van 10 het, wat as baie hoog beskou word, met veral hoë vlakke in Desember en Januarie. Die UV-stralingsindeks is ’n internasionale standaardmaatstaf wat die sterkte van die son se straling aandui. Doeltreffende beskermingsmaatreëls is noodsaaklik in gebiede waar die gemiddelde indeks bo 8 is.
“Daar is ’n dringende behoefte om die risiko van velkanker te verminder deur daagliks die gewoonte aan te leer om jouself teen die skadelike effekte van die son se ultraviolet A (UVA)-strale te beskerm. UVA-strale kan deur glas, sambrele en wolke dring en is verantwoordelik vir langtermyn velskade, die verouderingsproses en moontlike velkanker,” verduidelik hy.
Alle bevolkingsgroepe geraak
Volgens dr. Mazwai is alle Suid-Afrikaanse velkleure in gevaar vir velkanker. Ten spyte van algemene wanopvattings behoort alle Suid-Afrikaners die nodige sonveilige voorsorgmaatreëls te tref.
“Gelukkig is voorkomende maatreëls eenvoudig genoeg om toe te pas. Verminder UV-blootstelling deur skaduwee te soek tussen 10:00 en 16:00, sonbeddens te vermy, ’n doeltreffende sonskerm korrek te gebruik en UV-beskermende klere te dra wanneer jy in die son werk of aan ontspanningsaktiwiteite deelneem.
Gereelde velkankersiftings by jou dokter behoort outomaties deel te vorm van jou geskeduleerde voorkomende gesondheidsondersoeke.



