Bek-en-klou: ‘Kry munisipaliteite om maatreëls vir beweging van vee af te dwing’
Van die groot bekommernisse oor die verspreiding van Bek-en-klouseer is beeste wat verkoop en onwettig geskuif word sonder die nodige permitte, terwyl wetstoepassing onvoldoende bly.
Munisipaliteite behoort reeds inligting te hê oor vee en eienaars wat op gemeenskaplike weiveld en ander munisipale eiendom bedryf. In die meeste dorpe regoor die Vrystaat loop beeste op gemeenskaplike weiveld vrylik langs paaie, wat ’n groot bedreiging vir die verspreiding van bek-en-klouseer inhou. Op sommige plekke is daar selfs beeste op munisipale natuurreservate met ’n soortgelyke gebrek aan beheer.
Volgens dr. Roy Jankielsohn, DA-leier in die Vrystaat lê die gevaar vir die verspreiding van Bek-en-klouseer in die provinsie, nie net in fisiese kontak tussen beeste nie, maar ook in die mis wat met hul beweging gepaard gaan.
“Baie gemeenskaplike weiveld-beeste word saans in krale ingedryf, wat ’n verdere risiko vir die verspreiding en beheer van die siekte inhou,” het die party gesê.
Die DA het daarom ‘n skrywe aan die Vrystaatse LUR vir Samewerkende Regering gerig om te vra dat hy, as die politieke hoof van die verantwoordelike departement, ’n provinsiale ramp verklaar om beter koördinering tussen provinsiale regeringsdepartemente, die toewysing van die nodige hulpbronne en die afdwinging van kritieke beheermaatreëls te verseker.
Dit volg op korrespondensie aan munisipaliteite, wat die erns van die situasie en die behoefte aan onmiddellike en beslissende ingryping beklemtoon.
Die DA sê hy verwelkom die versoek vir ’n vergadering deur die Vrystaatse LUR vir Samewerkende Regering, Tradisionele Sake en Menslike Nedersettings, mnr. Teboho Mokoena, aan munisipaliteite en die LUR vir Landbou, me. Elzabe Rockman, om die verspreiding van bek-en-klouseer in die provinsie te bespreek. maar dat blote betrokkenheid nie voldoende wees sonder dringende, afdwingbare optrede op grondvlak nie.
Volgens die party het munisipaliteite ’n verantwoordelikheid om verordeninge op te stel en toe te pas waar dit kom by die beweging van vee in hul regsgebiede.
Van die groot bekommernisse is beeste wat verkoop en onwettig geskuif word sonder die nodige permitte, terwyl wetstoepassing onvoldoende bly. Daar is ook steeds huiwering onder vee-eienaars om die siekte aan te meld uit vrees vir kwarantyn, wat infeksies toelaat om onopgemerk te versprei.
Aangesien dit ’n staatsbeheerde siekte is, bly dit die verantwoordelikheid van die staat om beeste in te ent, beweging te beheer en inligting aan alle veeboere te versprei.
“As die derde sfeer van regering dra Vrystaatse munisipaliteite net soveel verantwoordelikheid as provinsiale en nasionale departemente ten opsigte van die aanmelding en beheer van die verspreiding van hierdie siekte, het Jankielsohn gesê.
Oproepe vir proaktiewe leierskap, gekoördineerde afdwinging en duidelike aanspreeklikheid word al meer gehoor, en sal vertraagde of reaktiewe reaksies die krisis met Bek-en-klouseer net verdiep en die Vrystaat se landbou-ekonomie, voedselsekerheid en landelike bestaansmiddele verder in gevaar stel, het die DA gesê.



