Riviertragedie: Liggaam gekry
Die liggaam moet nog uitgeken word om te bepaal of dit moontlik dié kan wees van 'n man wat oor die naweek na vermoede by die hangbrug in Parys verdrink het.
Die liggaam van ‘n volwasse man is vanmiddag net voor 13:00 by die Parys/Potchefstroom-brug oor die Vaalrivier by Egweni River Lodge uit die water gehaal.
Die vermoede is dat die liggaam moontlik dié van die vermiste Hammanskraalse man kan wees wat waarskynlik Saterdag by die hangbrug in Parys verdrink het. Die liggaam moet egter nog uitgeken word voordat die identiteit van die oorledene bevestig kan word.
Die polisie is nog besig met hul ondersoek.
Adjudant-offisier Swannie Swanepoel van die K9 Soek- en reddingseenheid in Bloemfontein, en konstabel Monica Delport van Duikpunt 1 in Sasolburg het net voor 13:00 die liggaam uitgehaal wat rondom 11:00 vanoggend deur die tuinier van ‘n inwoner wat naby die rivier bly, in die water opgemerk is. Die inwoner het Security Master in kennis gestel waarop die polisie ontbied is.


Soektog
Polisieduikers en adjudant-offisier Hollie Holtzhausen van die K9 Soek-en-Reddingseenheid in Sasolburg, het oor die naweek onverpoosd gesoek na die man wat Saterdag rondom 13:00 na vermoede by die hangbrug verdrink het. Mense wat saam met die man by die rivier was, het die polisie in kennis gestel nadat hulle vermoed het dat hy moontlik verdrink het toe hy in die water in is, maar nie weer daarna gesien is nie.
Stroomversnellings maak rivier hier onvoorspelbaar
Die gebeure volg nadat daar in November 2025 drie mense by die hangbrug verdrink het tydens ‘n doopseremonie. Stroomversnellings by die hangbrug maak die rivier juis hier by die hangbrug onvoorspelbaar en het verskeie mense oor die jare al hier hul lewe verloor.
Waarskuwings nodig
Die tragedie het ook weer opnuut die nodigheid van waarskuwingsborde langs die rivier, veral by die hangbrug, uitgewys waar ‘n groot toeloop van mense is.



