Local newsNews

Regeringsdepartemente se kragskuld kommerwekkend

Die munisipaliteit het inwoners die versekering gegee dat nie geskroom sal word om munisipale bywette toe te pas en te verseker dat alle projekte binne munisipale grense voldoen aan wetsvereistes.

Regeringsdepartemente skuld die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit meer as R250m vir kragverbruik, maar ten spyte van munisipale kennisgewings oor die agterstallige skuld in Oktober 2025, is ‘n skamele R8,8m se betalings van die betrokke departemente ontvang, het die munisipaliteit se burgemeester die afgelope week gesê.

Dit volg nadat kragtoevoer na die Parys Korrektiewe Dienste Sentrum se konstruksieperseel verlede week tydens ‘n oorsigbesoek gesny is weens onwettige kragverbindings. Volgens die munisipaliteit het dit tydens die besoek aan die lig gekom dat van die elektriese bedrading in die geboue op die perseel nie aan die aanvaarde SANS-standaarde voldoen nie. Dit het tot gevolg gehad dat daar nie betaal is vir die krag wat gebruik is nie.

Die burgemeester, rdl. Victoria de Beer-Mthombeni, sê optrede soos hierdie ondermyn nie net die munisipale kredietbeheerbeleid nie, maar stel ook mense se lewens in gevaar.

Die burgemeester sê naas die optrede by die Korrektiewe Dienste Sentrum, is ook opgetree teen drankhandelaars wat hul skuldig gemaak het aan dieselfde wanpraktyk.

De Beer Mthombeni is tydens die oorsigbesoek by Korrektiewe Dienste, vergesel van raadslid Norma Moloi (burgemeesterskomiteelid vir gemeenskapsveiligheid), en beamptes van Departement Arbied.

Raadslid Victoria de Beer-Mthombeni (regs) tydens 'n oorsigbesoek aan die konstruksieperseel van die Parys Korrektiewe Dienste Sentrum.
Raadslid Victoria de Beer-Mthombeni (regs) tydens ‘n oorsigbesoek aan die konstruksieperseel van die Parys Korrektiewe Dienste Sentrum.

Die oorsigbesoek het naas die onwettige kragverbruik ook nie-nakoming van munisipale bywette ten opsigte van indiensneming van buitelandse burgers uitgewys.

Die munisipaliteit het inwoners die versekering gegee dat nie geskroom sal word om munisipale bywette toe te pas ter wille van die beskerming van plaaslike arbeidsgeleenthede nie, en om te verseker dat alle projekte binne munisipale grense voldoen aan wetsvereistes.
Gazette het navraag gedoen by die Departement van Korrektiewe Dienste oor die kragkwessie op die konstruksieperseel van die Parys Korrektiewe Dienste Sentrum, maar het nog nie reaksie ontvang nie. Die departement se kommentaar sal bygevoeg word sodra dit ontvang word.

In antwoord op wanneer die opgradering van die Korrektiewe Dienste-sentrum in Parys voltooi sal wees, het die departement se woordvoerder, Siyabaka Ngalo, slegs bevestig dat die kontrakteur steeds besig is.

Sloering van bouprojek

Die sloering van die bouprojek by die Korrektiewe Dienste-sentrum in Parys, het enorme logistieke uitdagings en koste vir die Departement van Korrektiewe Dienste gebring, met die vervoer van gevangenes en personeel na naburige fasiliteite.

Boonop plaas dit bykomende druk op reeds vol korrektiewe fasiliteite.

Die opgradering van die Parys Korrektiewe Sentrum moes reeds teen Augustus 2025 voltooi gewees het, maar in Januarie verlede jaar het die departement al aangedui dat dit nie haalbaar is nie, weens vertragings as gevolg van swak vakmanskap van die vorige kontrakteur wat eers reggestel moes word.

Aanvanklik is R282m vir die projek begroot maar het dit vir maande stilgestaan omdat die vorige kontrakteur se kontrak weens swak prestasie beeïndig is.

Oorspronklike kontraktermyn

Die bouperseel is in Februarie 2019 aan die oorspronklike kontrakteur, NJR Projects (later G5 Group) van die tenderpreneur Edwin Sodi oorhandig. Die 36 maande kontrak moes toe teen April 2023 voltooi wees. In Februarie 2023 is die kontrak egter met G5 beeïndig.

Die projek was toe net 55% voltooi met die kontraktermyn wat al byna verstryk het. Van die toegekende kontrakkoste is R130 879 446 toe reeds spandeer.

Kontantvloei probleme van die kontrakteur is destyds as die hoofrede uitgewys waarom konstruksiewerk nie binne die aanvanklike vyf jaar kontraktermyn voltooi is nie.
Die situasie is verder deur Covid vererger.

Nuwe kontrakteur

‘n Nuwe kontrakteur is toe aangestel en die bouperseel einde Februarie 2024 aan die kontrakteur oorhandig vir ‘n 18 maande kontraktermyn.

Die nuwe generasie fasiliteit sal met voltooiing van die projek 266 beddens hê en sal ook voorsiening maak vir ‘n mediese fasiliteit, onderrig- en opleidingsfasiliteite, ‘n sokkerveld, en gesofistikeerde sekuriteitselsel met ‘n sentrale beheerkamer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button