Ton teer maak 43 gate minder in Viljoenskroon se strate
AfriForum sê die munisipaliteit versaak inwoners wat ook die belastingbetalers is.
Viljoenskroners het 43 slaggate minder om voor uit te swaai in Viljoen- en Kerkstraat nadat die plaaslike AfriForum-tak moue opgerol het om die bykans onrybare gedeelte van die pad om die Hoërskool Salomon Senekal weer rybaar te kry. Hiervoor is 40 sakkies teer gebruik, wat beteken dat daar slegs in hierdie twee strate een ton teer weggewerk is. Die projek het R3 880 gekos.
“Die Moqhaka Plaaslike Munisipaliteit versaak die inwoners van Viljoenskroon, wat ook die belastingbetalers is,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier. Pretorius sê daar moenie opgehou word om druk op die munisipaliteit toe te pas dat hulle doen waarvoor hulle betaal word nie,”

“Ons het op die strate om die hoërskool, wat die ouers gebruik om by die skool te kom, gefokus. Hierdie strate is egter in ’n jammerlike toestand en is professionele ingryping van die munisipaliteit steeds nodig,” sê Attie Barnard, voorsitter van AfriForum se Viljoenskroon-tak.
Indien jy wil betrokke raak by die AfriForum-tak, kontak Barnard by 082 557 1428. Om by die Viljoenskroon-buurtwag betrokke te raak, kontak vir Herman Smit by 072 127 2250.



