Local newsNews

Landbou-organisasies daag regering se entstofbenadering in die hof

Die Vrystaat is steeds een van die land se provinsies wat die swaarste deur die siekte getref is.

Die Suider-Afrika Agri-inisiatief (Saai), Vrystaat Landbou (VL) en Sakeliga het vandeesweek ‘n dringende aansoek by die Pretoriase hooggeregshof ingedien in ‘n poging om onder meer die regering se entstofbenadering vir Bek-en-klouseer wat ‘n verwoestende ekonomiese impak op vee en die breër landbouwaardeketting het, te stuit.

Die landbou organisasies wil met dié aansoek ‘n tussentydse interdik teen die Minister van Landbou, John Steenhuisen, die Departement van Landbou, en die Direkteur van Dieregesondheid bekom.

Volgens Vrystaat Landbou se president, Francois Wilken, vorm die aansoek deel van ‘n breër hersieningsproses waarin die wettigheid, rasionaliteit en grondwetlikheid van sekere Bek-en-klouseer-maatreëls, bevraagteken word.

Wilken sê die huidige situasie rondom die hantering van Bek-en-klouseer in die land bedreig nie net individuele produsente se bestaansvermoë nie, maar ook voedselsekerheid, werksgeleenthede en landelike ekonomieë.

Die kern van Vrystaat Landbou se standpunt is dat boere nie verhinder moet word om hul eie diere te beskerm waar hulle die vermoë het om dit wettig en verantwoordelik te doen nie, het hy gesê. Dit is onaanvaarbaar dat private inisiatiewe en hulpbronne geblokkeer word in ‘n tyd waar die staat self kapasiteitsuitdagings erken en die siekte reeds wyd versprei is, het Wilken benadruk.

VL voer aan dat die huidige benadering, wat die invoer en beskikbaarheid van entstof beperk, en boere verhoed om parallel met die staat op te tree, die krisis vererger en die risiko van verdere verliese verhoog. Die organisasie is ook van mening dat ‘n model waarin die staat, die privaatsektor en produsente gesamentlik optree, noodsaaklik is om die pandemie doeltreffend te bestuur.

Die Vrystaat is steeds een van die provinsies wat die swaarste deur die Bek-en-klouseerkrisis geraak word. Altesaam 200 000 entstofdosisse teen Bek-en-klouseer is vroeër vandeesweek aan die Vrystaat toegewys, waarvan byna die helfte vroeër die week by staatsveeartse en dieregesondheidstegnici afgelewer is.

Benewens staatsveeartse en tegnici, insluitend gemeenskapsdiens-veeartse het heelwat private veeartse in die provinsie ook geregistreer om te kan ent.

Altesaam 1.5m dosisse entstof van Dollvet, ‘n Turkse entstofvervaardiger, het die naweek in die land aangekom en nog 5m dosisse van Biogénesis Bago word uit Argentinië in die volgende twee weke verwag.

‘n Verdere 6.5m enstof dosisse van Dollvet behoort na verwagting teen einde Maart in Suid-Afrika te wees.

Elzabé Rockman, Vrystaatse LUR vir Landbou, het Maandag weer gewaarsku dat boere uitbrekings van die siekte moet rapporteer en dat nie-rapportering kan lei tot ernstige gevolge.

Sy het tydens ‘n media-inligtingsessie buite Bloemfontein gepraat oor die provinsie se hantering van die siekte, en gereageer op bewerings dat sommige boere uit vrees vir kwarantynmaatreëls, nie dadelik uitbrake rapporteer nie.

Rockman het daarop gewys dat hoe vinniger uitbrake aangemeld word, hoe vinniger kan opgetree word om verspreiding van die siekte te keer. Sy het ook gesê dat meeste boere wel hul samewerking gee.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button