Local newsNews

Slangvangers het weer hul hande vol

Moet onder geen omstandighede 'n slang met jou kaal hande probeer hanteer nie - allermins as jy nie die kennis het om slange te hanteer nie. Kry iemand met die nodige kennis en ervaring.

Met die winter wat nader kruip word heelwat slange nou gesien, sê WeCare se Wynand Nel wat die afgelope drie weke tussen tien en vyftien slange onder meer op die Parys Golf & Country Estate en by Vaal de Grace help vang het.

Vandeesweek weer was dit ‘n pofadder by Vaal de Grace en verlede week ‘n rinkhals en ‘n pofadder op die Parys Golf & Country Estate. Ook Johan Smit het Sondag gewaarsku nadat hy drie pofadders buite die dorp opgemerk het. Nel wat al vir jare help om slange te verwyder, sê die rede dat soveel slange nou gesien word, is omdat hulle kos en skuiling soek voor die winter.

Van die slange wat gekry is, was naas pofadders en rinkhalse, ook ‘n nagadder, ‘n molslang en ‘n bruin huisslang.

Nel waarsku egter dat mense nie moet probeer om die slange met die kaal hand te vang nie. Hy sê baie videos doen op sosiale media platforms die ronde waar mense slange kaal hand sonder enige beskerming vang. Hy sê dit skep ‘n wanpersepsie en kan jou duur te staan kom.

Ongeag of ‘n slang giftig is of nie, kan die hantering van die slang sonder beskerming groot probleme vir jou veroorsaak met bakterie as jy byvoorbeeld ‘n oop wond sou hê.

Indien moontlik, is die beste raad om:

  • ‘n Foto van die slang vir iemand met die nodige kennis in die hantering van slange te stuur, sodat wanneer hulp gekry word, hulle weet waarmee hulle te doen het.
  •  As jy nie ‘n foto kan neem nie, probeer om die slang dop te hou totdat hulp kom, maar onthou – jou veiligheid kom altyd eerste.
  •  Hou jou troeteldiere en kinders weg van die slang. Veral rinkhalse is baie agressief die tyd van die jaar.

Volgens slangkenner, Arno Naudé, eienaar van Snake Bite Assist in Pretoria, is die meeste slangbyte wat gerapporteer word veroorsaak deur rinkhalse, Kaapse Kobras en pofadders – almal giftig hoewel die rinkhals nie so giftig soos die Kaapse Kobra en ‘n pofadder is nie.

Naudé sê die Kaapse Kobra is van die giftigste slange in Afrika en meer volop as die mamba, hoewel dié twee kop-aan-kop loop as dit kom by sterftes.

'n Rinkhals wat by Koppies gekry is.
‘n Rinkhals wat by Koppies gekry is. Foto: Verskaf

Byt of pik ‘n slang?

Sekere slange soos die mamba en adders pik, maar ander slange soos kobras, boomslange en luislange het ‘n bytaksie, verduidelik Naudé. Hy sê slange wat nie giftig is nie, is ook dikwels meer geneig om ‘n bytaksie te hê.

Wat om te doen in geval van ‘n slangbyt:

  • Naudé se raad is om wanneer ‘n slang jou sou byt of pik ‘n foto so na as moontlik te probeer neem, mits dit veilig is, al is dit ook net van ‘n klein gedeelte van die slang se lyf. Moet egter nie kanse waag om die slang te probeer doodmaak of te vang nie.
  • ‘n Behoorlike beskrywing van die slang kan ook nooddiens- en hospitaalpersoneel help.
  • Ry dadelik met die pasiënt na die naaste hospitaal en vra dat nooddienste jou langs die pad kry.
  • Maak seker hulle weet watter pad jy gaan ry en sit jou noodligte aan sodat hulle jou maklik sien.
  • Moet onder geen omstandighede die plek waar die pasiënt gebyt/gepik is probeer afbind met ‘n verband nie. Hou die ledemaat waar die bytplek is, harthoogte.
  • Hou die pasiënt kalm en moet onder geen omstandighede die pasiënt iets gee om te drink nie.

'n Pofadder wat by Parys Golf & Country Estate gekry is.
‘n Pofadder wat by Parys Golf & Country Estate gekry is. Foto: Verskaf

Wat om te doen wanneer jy ‘n slang in jou erf of huis kry

Dit is altyd die beste om eerder iemand te kry wat slange ken om jou te help om die slang te vang, maar sou dit nie moontlik wees nie, is ‘n besem die beste om die slang in ‘n houer wat kan toemaak soos ‘n boks of onder ‘n harde plastiekhouer soos ‘n asblik of emmer in te stoot.

Moenie die houer in die son laat nie en sit ‘n baksteen op die houer totdat hulp opdaag.
Die slang moet so gou moontlik in die veld vrygelaat word.

Die bruin huisslang word byvoorbeeld dikwels in erwe en huise opgemerk, maar is gewoonlik skadeloos en kan uitgeken word aan sy bruin kleur en twee wit strepe van sy neus, verby sy oë tot aan die agterkant van sy kop.

Noodnommers om te skakel

Poison Information Helpline – 086 155 5777
Snake Bite Assist (Arno Naudé) – 083 739 9303
WeCare (Wynand Nel) – 082 629 1553/ 071 554 7966

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button