Klinieke gesluit oor infrastruktuur, brandblussers – maar min genade met water- en personeeltekorte
Gemeenskappe betaal die prys vir personeeltekorte, gebrekkige instandhouding en swak munisipale dienslewering.
Inwoners van Vredefort wat van die diens van Departement Gesondheid se Kananelo-kliniek afhanklik is, is die afgelope week genoodsaak om na die Relebohile-kliniek in die Mokwallo-woonbuurt te gaan vir mediese dienste en chroniese medikasie, nadat Departement van Arbeid Kananelo se deure gesluit het met ‘n vyf dae kennisgewing om infrastruktuur probleme reg te maak, en te sien dat die kliniek se brandblussers gediens word.
Die tydelike sluiting van die kliniek is deur Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaat Departement van Gesondheid aan Gazette bevestig.
Van die bestuur tot personeel en selfs die private sektor het egter die afgelope week berge versit om seker te maak dat Kananelo Dinsdag weer ‘n diens aan pasiënte kon lewer.
Die brandblussers is gediens. Die kliniek is skoongemaak met die hulp van die kliniekkomitee en Expanded Public Works Programme (EPWP) werkers van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit. Met die hulp van Sasol kon twee lugversorgers in die apteekstoor geïnstalleer word, en is werk gemaak van ander infrastruktuur kwessies.
Met baie pasiënte wat nie vervoer na die Mokwallo-woonbuurt het nie, was die spanpoging om die kliniek se deure oop te kry, ‘n groot verligting.

Maar Kananelo is nie die enigste van die departement se klinieke wat al deurgeloop het onder sluitingskennisgewings van die Departement van Arbeid nie.
‘n Maand gelede is die Sandersville-kliniek in Heilbron gesluit oor wat verneem is gekraakte mure en vloerteëls.
Die PAX-kliniek is Viljoenskroon sowel as die Sizabantu-kliniek in Heilbron is in 2025 deur die Departement van Arbeid gesluit oor strukturerele probleme.
Die gevolg is dat gemeenskappe nou die prys betaal vir die gebrek aan instandhouding weens ‘n tekort aan fondse, veral aan die einde van die departement se finansiële jaar.
PAX-pasiënte word nou by die Ango Maseola-kliniek in die Rammulotsi-woonbuurt by Viljoenskroon gehelp – ‘n diens wat 24 uur beskikbaar moet wees, maar waar daar sedert Vrydag geen water was nie, en ‘n dieseltekort ook verhinder het dat die munispaliteit kon help om die opgaartenks vol te maak.
Desnieteenstaande hiervan is pasiënte gehelp.
Die Moqhaka-munisipaliteit het Maandag onvoorwaardelik verskoning gevra vir die gebrek aan watervoorsiening oor die naweek aan inwoners van Viljoenskroon en Rammulotsi, en sy onvermoë om die publiek op hoogte te hou met kennisgewings rakende die watertekorte.
Die munisipaliteit sê in sy verklaring die tekorte was weens ‘n waterpyp wat deur ‘n kontrakteur beskadig is, sonder dat die munisipaliteit in kennis gestel is. Die herstel van watertoevoer is ook vertraag weens tegniese en operasionele probleme, maar sou daar weer van Dinsdag af water in die waterverspreidingsnetwerk wees, is gesê, hoewel waterdruk steeds swak was in spesifiek die Marikana-woongebied waar die kliniek geleë is.
Naas knaende watervoorsieningsprobleme by klinieke, steier dienslewering ook onder swak onderhoude paaie na klinieke, en selfs rioolstorting soos gesien is in 2022 toe AfriForum die Moqhaka Munisipaliteit op terme geplaas het oor rioolbesoedeling nadat riool deur huise geloop het en ‘n enorme uitdaging by die Ango Maseola-kliniek veroorsaak het.
Die afgelope week het DA-raadslid Robert Ferrendale gesê dat ‘n skrywe aan die Vrystaatse Departement van Gesondheid gerig is oor personeeltekorte en agteruitang by Relebohile-kliniek in Phiritona wat met die sluiting van die Sandersville-kliniek nou ook ‘n groter hoeveelheid pasiënte van Heilbron moet bedien. Ferrendale sê dit gebeur dat pasiënte huis toe gestuur word sonder die nodige mediese sorg weens die hoë volume pasiënte en tekort aan hande.
Hy sê gesondheidswerkers doen hul bes onder baie moeilike werksomstandighede, maar personeeltekorte, ‘n tekort aan skoonmakers en gebrekkige instandhouding by klinieke, veroorsaak dat gemeenskappe aan die kortste end bly trek. Mense van wie sommige kilometers ver loop om by mediese sorg te kom.



