Heilbron word deel van Metsimahole
Na die munisipale verkiesing in November sal Heilbron nie meer onder die Ngwathe munisipale gebied val nie.
Heilbron sal ná die munisipale verkiesing in November deel wees van die Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit, en nie meer die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit soos tans die geval is nie.
Gevolglik sal Heilbron-kiesers onder Metsimaholo-wyke registreer, en is Heilbron-inwoners aangeraai om die Metsimaholo OVK-kantoor te kontak vir inligting rakende stemlokale.
Die Ngwathe jurisdiksie gebied sal dan net die dorpe Parys, Vredefort, en Koppies insluit. Die bevestiging is deur die Munisipale Afbakeningsraad (MDB) gegee.As gevolg van die inlywing van Heilbron by Metsimaholo, verander die aantal wyke in Ngwathe wat beteken dat wyksnommers in Ngwathe ook vir die komende verkiesing verander.
Nog ‘n belangrike verandering is dat die stadsaal nie ‘n stemlokaal vir die komende munisipale verkiesing is nie. Kiesers wat voorheen hier geregistreer en gestem het, sal nou by Hoërskool Parys registreer en stem. Belangrik is egter dat die verandering van wyksnommers en stemlokale nie kiesers se registrasiestatus beïnvloed nie.

Kiesers wat nog nie voorheen geregistreer het nie, of sedert die laaste verkiesing van adres verander het, moet egter seker maak dat hul wel vir die komende verkiesing geregistreer is.
As jy twyfel of jy as kieser geregistreer is vir die verkiesing, kan jy jou registrasiestatus nagaan by registertovote.elections.org.za, jou plaaslike OVK-kantoor gedurende kantoorure by die Forum-gebou besoek, die OVK se webtuiste volg by www.elections.org.za, of jou ID-nommer SMS na 31810. Jy kan ook tydens registrasienaweek, 20-21 Junie, by jou stemlokaal gaan seker maak of jy wel geregistreer is.



