Sasolburgse vrou wat bankbesonderhede manipuleer en vervals het, gevonnis
Die vrou is aangekla van 45 klagte van bedrog, en 45 klagte van geldwassery.
‘n Sasolburgse vrou wat oor ’n tydperk van twee jaar, R990 506,06 by ‘n maatskappy gesteel het deurdat sy bankbesonderhede gemanipuleer en vervals het deur kliënte se bankinligting na haar eie rekeningbesonderhede te verander, is tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis, of die opsie van ’n boete van R200 000,00, opgeskort vir vyf jaar, gevonnis.
Die Sasolburgse landdroshof het die 53-jarige Janine Scheepers ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. Hierbenewens is haar huis, ter waarde van ongeveer R900 000,00, deur middel van ‘n batebeslagleggingsbevel gekonfiskeer en in die name van die klaers, Elzette Swannepoel en Frankie de Paiva, oorgedra.
Scheepers is reeds op 15 Mei deur die hof skuldig bevind en gevonnis op aanklagte van bedrog en geldwassery.
Die vonnis spruit voort uit voorvalle wat tussen 26 April 2022 en 28 Desember 2023 plaasgevind het, en is sy aangekla van 45 aanklagte van bedrog en 45 aanklagte van geldwassery.



