Local newsNews

Konstitusionele hof beslissing oor Ngwathe: Fokus moet nou skuif van litigasie na implementering

Die konstitusionele hof beslissing bring ’n einde aan ’n uitgerekte regsstryd nadat regter J.P Daffue in Junie 2025 in die Vrystaatse Hoë Hof beslis het dat die Ngwathe Munisipaliteit nie sy grondwetlike, wetlike en administratiewe verpligtinge teenoor die inwoners van Ngwathe nakom nie.

AfriForum, die DA en Save Ngwathe het vanmiddag die afhandeling van die regsproses verwelkom wat die implementering van provinsiale ingryping by die Ngwathe Munisipaliteit ingevolge Artikel 139 van die Grondwet bevestig.

Dit nadat die konstitusionele hof met ‘n volbank regters vandag die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit se aansoek om verlof tot appèl met koste van die hand gewys het teen ‘n vroeëre beslissing van die Vrystaatse Hoë Hof om die munisipaliteit onder administrasie te plaas. In die beslissing word gesê dat daar geen redelike vooruitsig op sukses vir Ngwathe se aansoek is nie.

Die konstitusionele hof beslissing bring ’n einde aan ’n uitgerekte regstryd nadat regter J.P Daffue in Junie 2025 in die Vrystaatse Hoë Hof beslis het dat die Ngwathe Munisipaliteit nie sy grondwetlike, wetlike en administratiewe verpligtinge teenoor die inwoners van Parys, Heilbron, Koppies, Vredefort en Edenville nakom nie.

Wat het regter Daffue se uitspraak bepaal

Kragtens regter Daffue se uitspraak is bepaal dat die Vrystaatse premier, die provinsie se uitvoerende raad en die ander betrokke respondente in die saak binne die raamwerk van artikel 139(5)(a) en (b) van die Grondwet:

* ’n herstelplan implementeer om dienslewering te herstel en toe te sien dat die munisipaliteit sy finansiële verpligtinge nakom;

* die Ngwathe- munisipale raad ontbind en ’n administrateur aanstel totdat ’n nuwe munisipale raad verkies kan word;

* en ’n tydelike begroting, inkomste-genererende maatstawwe of enige ander maatstawwe goedkeur wat uitvoering sal gee aan die herstelplan.

Daffue het bevind dat dié saak ’n geskikte geval is waarby die hof die rol as waghond moet speel, en beveel dat die premier van die Vrystaat sowel as die uitvoerende raad en die LUR’e vir SRTS, Finansies en Ekonomiese, Kleinsakeontwikkeling, Toerisme en Omgewingsake elke drie maande, onder eed en skriftelik, aan die hof verslag moet doen oor die vordering met die implementering van die bevel.

Voorts is beveel dat die Ngwathe-munisipaliteit tesame met agt ander respondente in die saak, waaronder die premier, AfriForum wat die aansoek na die hof gebring het, se regskoste moet betaal.

Die howe het nou duidelik uitspraak gelewer

“Die bevindings oor die ineenstorting van bestuur, finansiële wanfunksionering en die voortdurende skade wat inwoners ly, is in die hof getoets en uiteindelik gehandhaaf,” het die DA in sy reaksie gesê.

Die party sê verder daar is nou geen verdere ruimte vir uitstel, obstruksie of politieke maneuvrering nie.

Die fokus moet verskuif van litigasie na implementering.”

Die DA het ook die pogings van AfriForum, Save Ngwathe en elke inwoner erken wat geweier het om wat die party noem die ‘voortgesette agteruitgang van die munisipaliteit te aanvaar.’

“Hierdie uitkoms is nie ’n oorwinning vir enige politieke party of organisasie nie. Dit is ’n oorwinning vir die mense van Ngwathe en vir grondwetlike aanspreeklikheid.”

‘n Beroep is op die Vrystaatse Provinsiale Regering gedoen om te verseker dat die administrasieproses doeltreffend en deursigtig geïmplementeer word, met ’n duidelike fokus op die herstel van basiese dienste, die stabilisering van munisipale finansies en die herbou van openbare vertroue.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button