20-Jarige vas ná gru-moord op pensionaris
Die 20-jarige verdagte is in 'n hospitaal opgespoor en is tans onder polisiebewaking.
Die polisie in Orkney ondersoek klagte van moord en regsverydeling ná die gru-moord op ‘n 71-jarige man wie se verkoolde liggaam agterop sy bakkie gekry is.
Mynsekuriteit het die polisie Woensdag, 10 Junie in kennis gestel van ‘n uitgebrande voertuig in ‘n afgeleë veld agter Skag No. 6 in Orkney. Met hul aankoms op die toneel het die polisie die liggaam agterop die uitgebrande bakkie gekry.
Die voertuig het ondersoekbeamptes na ‘n adres in Orkney gelei, waar bloedvlekke op die oprit gesien wat na die buurman se huis gelei het. Daar is later vasgestel dat die beweerde verdagte en die oorledene bure was.
Die polisie het die wapen wat vermoedelik tydens die moord gebruik is, en van die oorledene se besittings waaronder ook ‘n selfoon in die buurman se huis gekry.
Die 20-jarige verdagte is by ‘n plaaslike hospitaal opgespoor, waar hy in hegtenis geneem en onder polisiebewaking geplaas is.
Die Waarnemende Provinsiale Kommissaris van Noordwes, Majoor-generaal (Dr.) Ryno Naidoo, het die gruwel misdaad ten sterkste veroordeel en die polisielede geloof vir hul vinnige optrede om die verdagte op te spoor.



