Local newsNews

Helga se avonture neem jou op ‘n reis van eg-menswees

Die boek is vir enige iemand wat net wil ontspan met ‘n goeie storie

Wanneer ‘n skrywer se boek die dag op die winkelrakke beskikbaar is, begin die naels kou oor die resensies.

Die boek is ‘n deel van jou waaraan jy vir maande gewerk het, en nou gaan die resensente vertel wat hulle van jou werk dink. Dis altyd ‘n verligting as die terugvoer goed is, en wanneer daar iets negatief gesê word, met goeie motivering, kan ‘n skrywer daaruit leer.

Maar soms wil skrywers ook van die gewone leser hoor, want dis immers die leser wat die boeke koop.

Dis hulle wat dit lees omdat hulle graag wil, en dit dan met vriende en familie bespreek. Vir hierdie rede
wil ek voortaan soms met lesers ook gesels oor die boeke en hulle opinies
daaroor.

Ek het vir ds. Pierre Guillaume gevra om vir my sy indrukke te gee van Die avonture van Helga Roets,
deur Riaan Grobler.

Wat het jy gedink van die karakters in die boek?

Die karakters in die boek, veral Helga wat om en by 80 is, word so beskryf dat ‘n mens ‘n prent van haar
in jou gedagtes kan teken. So is daar onder andere haar oggendroetine hoe sy haarself sorgvuldig grimeer voor sy by haar kamer uitgaan; of haar versigtigheid vir Stefaans.

Sy wil nie oogkontak met hom maak nie. Sy voel hy lê aan by haar, en sy het nie tyd vir ‘n orige man nie (haar woorde).

Tog is daar ‘n groei by haar wanneer sy Stefaans teensinnig toelaat om op haar laaste reis saam te gaan,
nadat sy die diagnose gekry het dat haar tyd van self motor bestuur, verby is. Gedurende hulle reis leer sy hom beter ken en waardeer.

Verder is daar haar worsteling om te aanvaar dat sy van haar onafhanklikheid moet prysgee. Sy probeer onderhandel en kanse vat om te probeer bewys dat sy nog self kan kom waar sy wil wees, met gevolge.

Soos in enige verhaal, moet daar die slegte persoon wees wat probleme veroorsaak – Marinda van Tonder.

Waar sy in Helga se verlede inpas en hoe sy die lewe vir Helga deurmekaar krap, word realisties beskryf.

Dan is daar ook tant Magda met haar boererate wat haarself amper aan die brand steek in die proses. En Celeste – Helga se besorgde dogter, wat in haar pogings om na haar ma om te sien, Helga laat voel of sy in ‘n blik gedruk word.

Was die verhaal vir jou meesleurend en interessant?

Veral die komiese situasies wat Helga en Stefaans tydens hulle reis beleef, laat ‘n mens glimlag. Party daarvan kan net sowel met jouself gebeur het, soos om deur jou GPS na die verkeerde kerk en begrafnis beduie te word. Helga beland in situasies wat sy nie voorsien het nie.

Hierdie situasies word so beskryf dat jy dit voor jou kan sien afspeel. Helga se naïewe onskuld oor dinge
in die samelewing waarin sy lewe, soos toe sy danslesse wou neem, was vir my realisties. Ek wou elke keer
nog verder lees om te sien wat sy volgende sou aanvang.

Wanneer sy onnadenkend met die gereg bots en ‘n nag deurbring waar sy glad nie wou wees nie, word dit tesame met haar emosies daaroor, baie menslik beskryf; ook haar kinders en Stefaans se reaksie … en natuurlik Marinda s’n ook.


Omdat stede en dorpe asook die winkelsentrums en voorstede bekende en werklike plekke is, kan ‘n mens jou ook goed voorstel waar alles afspeel.

Hoe maak ‘n mens vrede met ‘n dokter se diagnose wat in jou lewe ingryp? Ontken jy dit? Probeer jy met
die werklikheid onderhandel? Probeer jy beheer behou terwyl jy die beheer aan ander moet oorgee?

Helga wys vir die leser hoe sy dit deurleef het, en aanvaarding gevind het.

Wat is jou opinie oor die boek oor die algemeen?

Ek het die boek geniet. Dit was sommer net ‘n lekkerlees en ‘n ‘voel goed’ boek. Die avonture wat Helga Roets beleef, terwyl sy eintlik maar net wil aangaan met elke dag se bestaan, met koffie en wortelkoek by
haar geliefkoosde koffiewinkel, het my geboei.

Ek sou die boek aanbeveel vir enige iemand wat net wil ontspan met ‘n goeie storie. Miskien sal lesers wat
self al die jare voel aanbeweeg, hulself beter kan indink in hierdie storie. Ek sal graag nog boeke van Riaan Grobler wil lees.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button