Local newsNews

Riool loop weer ten spyte van MRK-klag

AfriForum eis dat die munisipaliteit sonder uitstel aandui watter stappe gedoen word om die probleem op te los en watter maatreëls beplan word om die gesondheids- en omgewingsrisiko’s nou en in die toekoms te beperk.

Nadat AfriForum in 2022 die Moqhaka Plaaslike Munisipaliteit by die Menseregtekommissie (MRK) aangegee het oor riool wat in dele van Viljoenskroon gevloei het, het dié probleem skynbaar weer kop uitgesteek.

AfriForum het nou die uitvoerende burgemeester versoek om die nuwe rioolstorting tussen Rammulotsi en Viljoenskroon op te klaar voordat die burgerregteorganisasie opnuut die MRK nader.

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, vloei rou riool in ’n veld naby die Rammulotsi-gebied. Terwyl inwoners deur dié riool moet loop, drink vee die besmette water, sê Pretorius.

“Die riool stel jong kinders, bejaardes en vee bloot aan lewensgevaarlike siektes soos E. coli en lok insekte en knaagdiere wat op hul beurt ander siektes versprei. Die voorkoms van hierdie riool skend inwoners se reg op ’n veilige, gesonde en waardige leefomgewing,” het Pretorius verder gesê.

“Dieselfde probleem is reeds jare gelede by die MRK aangemeld en dit is destyds met hewige druk opgelos. Dat inwoners nou weer aan dieselfde haglike omstandighede blootgestel word, dui op ernstige tekortkominge in die munisipaliteit se vermoë om instandhouding te doen.”

Pretorius wys daarop dat elke persoon ingevolge artikel 24 van die Grondwet die reg het op ’n omgewing wat nie skadelik vir hul gesondheid of welsyn is nie. Plaaslike owerhede het dus ’n grondwetlike plig om basiese munisipale dienste op ’n doeltreffende, volhoubare en verantwoordbare wyse te lewer.

Riool wat tussen die Rammulotsi-woonbuurt en Viljoenskroon vloei. Foto: AfriForum
Riool wat tussen die Rammulotsi-woonbuurt en Viljoenskroon vloei. Foto: AfriForum

AfriForum eis dat die munisipaliteit sonder uitstel aandui watter stappe gedoen word om die probleem op te los en watter maatreëls beplan word om die gesondheids- en omgewingsrisiko’s nou en in die toekoms te beperk.

“Gemeenskappe kan nie gedwing word om daagliks tussen rou riool te leef nie, daarom sal AfriForum voortgaan om namens inwoners op te tree totdat hierdie probleem behoorlik opgelos is. AfriForum sal nie huiwer om weer die MRK te nader, met die betrokke owerhede te skakel of moontlike regsaksie te oorweeg indien die munisipaliteit nie gou dié kwessie opklaar nie,” sê Pretorius.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button