Man met Nyaope in sy skoene in begraafplaas gearresteer
Die polisie het ook 'n tweede verdagte vir onwettige dwelmhandel in Tumahole gearresteer.
Twee vermeende dwelmhandelaars is gister (Donderdag 23 Julie in die Tumahole-woonbuurt by Parys gearresteer.
Volgens sersant Mahlomela Kareli het waaksame polisiebeamptes tydens ‘n roetinepatrollie ‘n groep mans onder ‘n boom naby ‘n plaaslike skrootwerf in die nywerheidsgebied van Tumahole opgemerk.
Toe die beamptes hulle ongemerk nader om die mans te deursoek, het hulle in verskillende rigtings te voet gevlug. Lede van die eenheid het een van die verdagtes agternagesit in die rigting van Tokoloho en hom uiteindelik in die Tokoloho-begraafplaas vasgetrek. Tydens die deursoeking is ‘n hoeveelheid nyaope wat in sy skoene versteek was, sowel as ‘n onbekende bedrag kontant, gevind waaroop die man in hegtenis geneem is.

Die beamptes het daarna hul soektog in die gebied voortgesit en na die skrootwerf teruggekeer waar hulle ‘n tweede verdagte, ‘n 34-jarige man, betrap het terwyl hy glo dwelms verkoop. Die verdagte het probeer vlug in die rigting van Tokoloho, maar is naby ‘n woonhuis deur die beamptes vasgekeer. Nyaope, Mandrax-tablette en ‘n onbekende bedrag kontant is deur die polisie gevind.
Albei verdagtes word aangekla vir die besit van en handel in onwettige dwelms en sal na verwagting binnekort in die landdroshof in Parys verskyn.



