Suid-Afrikaners se opoffering in een van die bloedigste veldslae van WOI onthou
Drie Parysenaars wie se name op die gedenksteen voor die Parys-stadsaal aangebring is, was onder die gesneuweldes van die Slag van Delvillebos.
MOTHs van die Barrage Shellhole het verlede week hulde gebring aan die talle Suid-Afrikaanse soldate wat gesterf het in die Slag van Delvillebos – een van die bloedigste veldslae in die geskiedenis van die mensdom. Onder hulle, ook drie Parysenaars, Douglas Rutherford Sanders (25), John William Mays (26) en H. Horn, wie se name op die senotaaf van die gedenksteen voor die Parys-stadsaal aangebring is, en vir wie daar Woensdagaand ‘n kranslegging gehou is.



Die MOTHs bring jaarliks hulde aan die opoffering, diens en nalatenskap van dié wat gedien het, en is Delville Wood een van Suid-Afrika se belangrikste militêr geskiedkundige bakens wat herinner aan die moed, kameraadskap, opoffering en verantwoordelikheid wat aan die dag gelê is toe meer as een miljoen mans aan die oewer van die Somme-rivier in Frankryk tussen 1 Julie en 18 November 1916 gewond is, of gesterf het.
Onder die gesneuweldes en gewondes was meer as 2 400 Suid-Afrikaners wat geveg het om beheer oor ‘n klein stuk grond in die noordooste van Frankryk, bekend as Delvillebos, te kon kry.
Die aanval op Delvillebos het op 15 Julie 1916 begin. Net meer as 3 000 manne van SA se 1ste Infanteriebrigade het die opdrag gekry om die bos in te neem en is beveel om dit ten alle koste te verower. Die bos is vooraf deur Geallieerde artillerie gebombardeer voordat die infanterie ingestuur is.
Die suidelike deel van die bos is vinnig van Duitse soldate gesuiwer. Die bevelvoerder van die aanval, Tanner, het die aand van 15 Julie aan sy hoofkwartier gerapporteer dat die hele bos, behalwe die noordwestelike gedeelte naby die dorp Longueval, ingeneem is.
In werklikheid was die Suid-Afrikaners in ‘n uiters benarde posisie. Hulle het teen meer as 7 000 Duitse soldate te staan gekom. Die voortdurende artilleriebombardement het bome omgewerp wat dit moeilik gemaak het om loopgrawe te grawe, en om in die vlak loopgrawe te oorleef. Die Suid-Afrikaners het tot 19 Julie in Delvillebos geveg voordat hulle uiteindelik afgelos is. Van die 3 155 SA offisiere en soldate wat die bos binnegegaan het, het slegs 755 dit weer lewend verlaat.
Woensdag 16 Julie se besonderse gedenkdiens en toekenningsaand, het ook deel gevorm van die groter Parys 150 jaar vieringe waartydens erkenning gegee is aan verskeie individue en organisasies, waaronder ook Parys Gazette, vir diensbaarheid, betrokkenheid en die volgehoue bydrae om ‘n positiewe impak op Parys en die breër gemeenskap te maak.
Memorable Order of Tin Hats
Die Memorable Order of Tin Hats is in 1927 deur die Brits gebore Charles Alfred Evenden, beter bekend as EVO of Moth “O”, gestig. Hy sluit in 1914 aan by die Australiese Leër en keer na die oorlog terug na Australië voordat hy in 1923 by die Natal Mercury begin werk.
In 1926 het Charles ‘n Britse stil oorlogfliek gekyk wat ‘n toneel van troepe met staalhelms (Tin Hats) en modderige uniforms gedra het. Dit het hom laat wonder wat van sy Eerste Wêreldoorlog-maats geword het.
Daardie jaar, een maand voor die jaarlikse “Armistice Day” vandag bekend as Remembrance Day, het Charles sy redakteur, Kingston Russell, gevra of hy ‘n berig kon plaas om oorlogveterane aan te spoor om die parade by te woon.
Maande na die berig op 3 Mei 1927, het Charles weer die redakteur gevra of hy ‘n spotprent kon plaas. Met toestemming het hy begin werk aan die idee, – ‘n staalhelm as die simbool van oorlog wat in die see van vergeetagtigheid sink, met ‘n eensame soldaat wat in die agtergrond wegraak.
Voordat die spotprent geplaas was, het die idee van die “Memorable Order of Tin Hats” by Charles opgekom. Daardie aand het hy die struktuur van die orde uitgewerk en is die orde op 7 Mei 1927 gestig.
Charles het geglo dat vriendskap die grootste krag was wat aan die mens gegee is en dat die krag omskep kan word in praktiese dade om veterane te help. Dit was dan ook die gedagte vir die orde om die kameraadskap wat in die Eerste Wêreldoorlog ervaar is, voort te sit.
Hieruit het die drie MOTH-ideale: Troue Kameraadskap, Onderlinge Hulp en Opregte Nagedagtenis die grondslag van die orde geword. Hierdie ideale deurdring elke aspek van die bestaan van die MOTHs, en al die aktiwiteite en doelstellings word binne die konteks van die genoemde ideale uitgevoer.
Die organisasie het begin as Suid-Afrikaanse instelling, en oor jare is Shellholes ook geopen in Zimbabwe, Zambië, Malawi, Namibië, Swaziland en Engeland.
Barrage Shellhole in Parys is vanjaar 71 jaar oud.



