Ontvoerde Vrystaatse man binne ure gered
Die man het beserings aan die agterkant van sy kop asook kneusplekke aan sy hande en voete gehad toe hy gekry is.
Vinnige samewerking tussen die Vrystaatse Provinsiale Moord- en Roofeenheid, die Welkom K9-eenheid en die Parkweg Taktiese Reaksiespan (TRT) het vandag, Vrydag, 24 Julie, gelei tot die redding van ‘n ontvoerde man, en die arrestasie van ses vermeende ontvoerders.
Die ses mans, tussen 28 en 46 jaar oud, is in hegtenis geneem nadat ‘n 29-jarige man vroeër die dag na bewering met ‘n vuurwapen by sy woning in Steyn ontvoer is.
Die voorval is by die Welkom-polisie en die Provinsiale Moord- en Roofeenheid in Thabong aangemeld. Tydens die ondersoek het dit aan die lig gekom dat die slagoffer se familie, oproepe van die vermeende ontvoerders ontvang het waarin ‘n losprys vir sy vrylating geëis is. Die bedrag is nie bekend gemaak nie.
Die Welkom K9-eenheid en die TRT is onmiddellik ontplooi nadat inligting ontvang is wat die polisie na ‘n woning in Flamingopark gelei het.
Polisiebeamptes het die huis omsingel. Toe die verdagtes die polisie opmerk, het hulle glo probeer vlug, maar is vinnig aangekeer.
Met die deursoek van die perseel is die 29-jarige slagoffer in die motorhuis aangetref. Sy hande was agter sy rug vasgebind en hy was in ‘n ernstige toestand van skok. Hy het beserings aan die agterkant van sy kop opgedoen, asook kneusplekke aan sy hande en voete.
Tydens die operasie is twee handwapens, ammunisie en drie voertuie ook gekonfiskeer. Verdere ondersoek het aan die lig gebring dat een van die voertuie as gesteel in Winburg aangemeld is.
Die ses verdagtes sal na verwagting Maandag, 27 Julie, in die Welkom-landdroshof verskyn op aanklagte van ontvoering, afpersing, die besit van ongelisensieerde vuurwapens en die besit van ‘n vermoedelik gesteelde voertuig.
Die polisie ondersoek duur voort.



