Hoe moeilik moet dit nie wees om in hierdie winterkoue ‘n kind honger bed toe te stuur, of sonder ontbyt skool toe? Om nie te weet waar die volgende maaltyd vandaan sal kom nie. Dit is waarom Vrystaat Versorging in Aksie (VVA) jaarliks die Broodjiedag-projek aanpak om seker te maak dat daar in elke huis minstens ‘n brood sal wees.
Vanjaar se Broodjiedag word oor drie dae gehou – 29, 30 en 31 Julie.
Sanette Boonzaier van VVA Parys sê daar is voortdurend nood. Daarom help enige donasie, groot of klein, mense in jou gemeenskap wat nood ervaar.
Tuisgebak, gekoop, ‘n toebroodjie of broodrolletjie – lank of rond – wat jy ook al kan gee, maak ‘n verskil.

Die brode en broodrolletjies word uitgegee vir behoeftiges, families, maar ook organisasies – waar ook al hulp broodnodig is.
Jy kan jou broodskenking by VVA se kantoor in Buitenstraat afgee, of skakel (056) 811 2971, of WhatsApp 072 849 4590, om te reël dat die brood gehaal word.



