Hoekom jou stem so belangrik is in ‘n plaaslike verkiesing
Suid-Afrikaners sal op 4 November na die stembus gaan vir die landwye plaaslike verkiesing.
Wanneer kiesers op 4 November landwyd sal stem in die plaaslike verkiesing, bepaal jou stem onder meer hoe jou munisipaliteit se munisipale raad saamgestel sal word, en wie jou as raadslid op die raad sal verteenwoordig.
Met frustrasie en woede oor gebrekkige munisipale dienslewering is daar dikwels ook onkunde oor wat presies die rol van ‘n munisipale raadslid in die munisipale opset behels, en is dit daarom belangrik dat jy sal seker maak jy weet wat die pligte van ‘n raadslid is wanneer jy jou stem aan ‘n party gee.
Die rol van munisipale raadslede
Wetgewing vereis eerstens dat raadslede hul pligte in goeie trou, eerlik, deursigtig, en op so ‘n wyse moet verrig dat die geloofwaardigheid en integriteit van die munisipaliteit nie gekompromiteer word nie.
Dit word verwag dat raadslede alle vergaderings van die raad sal bywoon. en sal stem oor enige sake wat op die agenda mag wees. Raadsvergaderings moet vir dié doel minstens kwartaalliks gehou word.
Bywoning van vergaderings stel raadslede in staat om deel te neem aan oorhoofse besluitnemingsprosesse, om verslae te oorweeg, en om oorsigtelike en wetlike gesag oor die werksaamhede van die munisipaliteit uit te oefen.
Belangrik is dat geen raadslid as individu beskik oor enige sulke bevoegdheid nie – dit is slegs die raad in sitting wat daaroor beskik.
Van die belangrikste verslae wat oorweeg moet word is die burgemeester se statutêre kwartaalverslag, die jaarverslag, die verslag oor salarisse, lone en toelaes van personeel, en die verslag oor besluite geneem en uitgevoer ooreenkomstig gedelegeerde bevoegdhede aan die munisipale bestuurder verleen.
Die jaarlikse begroting en enige aanpassingsbegroting moet ook deur die raad goedgekeur word.
Raadsvergaderings dien as belangrike forums waar raadslede inligting oor munisipale sake kan bekom deur vrae. ‘n Raadslid kan verder ‘n mosie by ‘n vergadering stel vir debattering en besluitneming. Prosedures daarvoor is vervat in die raad se Staande Reëls.
Raadslede mag nie lede wees van, of selfs as waarnemer toegelaat word, by enige sittings van komitees wat handel met die toekenning van tenders, toewysing van kontrakte of aankope by wyse van kwotasies nie.
Dit word uitdruklik in artikel 117 van die Munisipale Finansieswet verbied. Alhoewel raadslede projekte wat aangepak moet word in die begrotingsproses moet goedkeur, beskik geen raads-lid gevolglik oor geleentheid om enige insette in die verkrygingsproses te maak nie, wat ‘n groot leemte uit die oogpunt van raadslede laat.
Hulle word bloot ingelig nadat tenders en kontrakte reeds deur die verkrygingskomitee toegeken is.
Statutêre gedragskode
Die statutêre gedragskode vir raadslede bepaal uitdruklik dat ‘n raadslid nie mag inmeng met die bestuur of administrasie van enige departement in die munisipaliteit nie, of enige opdrag mag gee, of voorgee om dit te gee aan enige werknemer van die munisipaliteit nie, of die uitvoering van enige besluit van die raad, of enige van sy komitees deur enige werknemer te belemmer of te probeer belemmer nie.
Versuim om aan die gedragskode te voldoen mag lei tot verwydering van die raadslid deur die lid van die provinsiale uitvoerende komitee op versoek van die raad.
Die rol van ‘n raadslid primêr is dus om beleid te maak rakende die wyse waar-op die munisipaliteit bestuur moet word waarna die uitvoering van sodanige beleid, behalwe waar enkele statutêre uitsonderings geld, uitsluitlik berus by die munisipale bestuurder en sy personeel.
Slegs die burgemeester beskik oor ‘n relatiewe oorsigrol wat aan hom/haar ‘n mate van gesag bied oor die optrede van amptenary.
‘n Raadslid se oorsigrol is basies beperk tot optrede binne raadsverband en pogings om as individu betrokke te raak by bestuursaspekte skep die risiko dat ‘n raadslid van sy amp onthef mag word. Groot takt en omsigtigheid is noodsaaklik waar ‘n raadslid wel met amptenare oor die uitvoering van hul pligte wil praat, selfs indien bloot gepoog word om raad of leiding te gee. Klagtes oor gedrag, wangedrag of pligsversuim moet by die munisipale bestuurder aangemeld word vir optrede.’n Raadslid beskik oor geen ge-sag tot dissiplinêre stappe nie.

Wie mag stem in die landwye munisipale verkiesing?
- Slegs stemgeregtige Suid-Afrikaanse burgers 18 jaar en ouer mag stem in die plaaslike verkiesing op 4 November. Jy sal ook jou identiteitsdokument, Smart ID of geldige tydelike identifikasiesertifikaat moet kan toon om te kan stem.
- Jy kan slegs stem as jou naam op die kiesersrol is wat beteken jy moet as kiesers geregistreer wees by die stemlokaal in die wyk waarin jou woonadres val. Anders as in ‘n nasionale verkiesing kan jy nie by enige stemlokaal stem nie.
- Dit beteken dat as jy nie betyds geregistreer het voordat die kiesersrol gesluit het, of versuim het om te herregistreer as jou adres verander het sedert die laaste verkiesing, sal jy nie kan stem nie.
- Buitelandse burgers wat nie Suid-Afrikaanse burgers is nie, mag nie aan verkiesings in Suid-Afrika deelneem nie.



