Local newsNews

Skoolprojek lei na bewusmaking vir Parys WADER

Die werk by Parys WADER fokus op die ontwikkeling van ‘n gesonder vleiland-ekosisteem waar voëllewe kan floreer.

Vier graad 6 leerders van Primêre Skool Parys het onlangs gaan kennis maak met Parys WADER waar gekyk is na die werk wat hier gedoen word.


Wat begin het met ‘n taak vir die vak,Sosiale Wetenskappe, het gelei na ‘n bewusmakingsveldtog oor die organisasie waar voëls van die omgewing wat in die sorg van Parys WADER is, ‘n beter kans op oorlewing gebied word.


Christie Kilian, Dominic Brits, Ethan Vermaak en Jaco Greeff het met Marisa Louw van Parys WADER gesels oor die organisasie.

Die graad 6 leerders tydens hul besoek aan Parys WADER. Foto: Verskaf


Wie is Parys WADER?


Parys Wetland Avian Development and Emergency Rescue is ‘n rehabilitasiesentrum vir voëls van die vleilande in die Noord-Vrystaat.


Wat doen Parys WADER?


Die werk by Parys WADER fokus op die ontwikkeling van ‘n gesonder vleiland-ekosisteem waar voëllewe kan floreer. Dit word gedoen deur ‘n kombinasie van gemeenskap opvoeding, verantwoordelike omgewingsbestuur en geteikende intervensie, hoofsaaklik vir voëls.


Wanneer die publiek verstaan hoe vleilande funksioneer en hoe voëls en ander diere reageer, is daar minder onnodige menslike ingryping, en beter kans vir natuurlike oorlewing en die aanteel van die diere van die vleilande


Die ontstaan van Parys WADER?


Parys WADER is gestig in September 2025.
Dit is geregistreer as ‘n nie-winsgewende maatskappy en nie-winsgewende organisasie.


Die organisasie het ‘n DESTEA (Departement van Ekonomiese, Klein Besigheid Ontwikkeling, Toerisme en Omgewing Sake) algemene wildlewe permit.


Met die registrasie en permitte in plek, kan sakelui en die publiek by die organisasie betrokke raak en deur donasies aan die organisasie ook kwalifiseer vir die toepaslike belastingvoordele.

Marisa Louw is die bekende gesig van Parys WADER, en dan is daar ook Nonna, die Nonnetjie uil wat die ambassadeur vir Parys WADER is.


Waar is Parys WADER?


Parys WADER werk oor die hele Noordelike Vrystaat, maar veral rondom Parys
Die rehabilitasiesentrum vir die versorging van die voëls is by 12B Derdelaan, Parys.


Watter inligting wil Parys WADER deel met die publiek?


Wanneer jy n voëltjie sien en nie weet wat om te doen nie, kan jy ‘n video vir Parys WADER stuur wat jou die nodige raad sal gee, en instruksies wat om te doen.


Die eerste 24 uur nadat ‘n voëltjie gekry is, is die belangrikste. Die regte omgewing met genoeg (maar nie te veel) hitte moet gegee word. Elke voëlspesie het ‘n spesifieke dieet wat hulle moet kry om vir daardie voëltjie die beste kans op oorlewing te gee.


In baie gevalle gebeur dit dat jong voëltjies wat leer hoe om te vlieg op die grond beland. Daardie voëltjie se ouers is naby en sal dit versorg tot waar dit veilig en op sy eie weer terug in die bome kan kom. Daarom los ons sulke voëltjies net waar ons hulle kry.


Die enigste tyd wanneer jy dadelik ‘n voëltjie sou optel, is wanneer die voëltjie in onmiddelike lewensgevaar is byvoorbeeld wanneer die voëltjie in ‘n besige teerpad is en daar karre is wat hom kan raakry.


Wanneer jy versigtig is vir ‘n kat of ‘n hond wat die voëltjie moontlik kan vang, dan is dit die beter keuse om eerder die kat of hond weg te vat uit die area, of om ‘n versperring, soos ‘n heining rondom die voëltjie te plaas. So kan die ouers steeds by die voëltjie uitkom om te versorg, maar die kat of hond word weggehou tot waar die voëltjie veilig na ‘n ander plek kan skuif.


Hoekom is Parys WADER gestig?


Dit gebeur gereeld dat mense probeer ingryp om wilde voëls te help wat byvoorbeeld beseer is of waar kuikens of jong voëls uit ‘n nes sou val. Hoewel die bedoeling goed is, is wilde voëls ‘n interessante, maar moeilike groep diere om te probeer help en versorg.


Parys WADER probeer om mense bewus te maak daarvan dat dit in sommige gevalle die beter keuse is om jong diere of kuikens in die natuur te los.


Rotte en muise is ‘n groot uitdaging veral in areas waar daar boerderybedrywighede is. Mense sit gif uit vir die muise en rotte. Wanneer ‘n rot of muis die gif eet, dan word dit siek en swak. Roofvoëls sien so ‘n rot of muis raak en dink dit is ‘n maklike prooi. Ongelukkig kry die roofvoël dan ook van die gif in, en word self baie siek en kan doodgaan. In sulke gevalle en wanneer dit nog moontlik is, kan ‘n veearts help.


Nog ‘n voorbeeld is roofvoëls wat op paaie raakgery word wanneer hulle kleiner prooi jag. Wanneer ‘n roofvoël raakgery en beseer word, kan ‘n rehabilitasiesentrum help met die versorging van die beseerde voël totdat hy sterk genoeg is om weer in die natuur vrygelaat te word.

Marisa Louw vertel die leerders hoe daar na die voëls omgesien word in die sorg van Parys WADER. Foto: Verskaf
Marisa Louw vertel die leerders hoe daar na die voëls omgesien word in die sorg van Parys WADER. Foto: Verskaf


Parys WADER se behoeftes en uitdagings


1. Groter publieke betrokkenheid. Wanneer meer mense betrokke raak, word groter bewustheid geskep wat weer die voëls op die langtermyn help.


2 ‘n Groter en beter ingerigte perseel. Soos wat Parys WADER groei, is daar meer voëls wat by hulle uitkom en wat aandag en sorg moet ontvang. Meeste van die diere kan nie in groepe aangehou word nie, vir hulle eie veiligheid en gesondheid. Daarom wil Parys WADER die perseel vergroot en beter inrig om die beste moontlike sorg te kan bied.


3 Finansies en Hulpbronne. Om die voëls te kan help, het Parys WADER finansies en hulpbronne nodig. Van kosbakke en waterbakke tot die kos wat die voëls eet. Veeartse en vrywilligers help baie, maar hulle het ook uitgawes wat betaal moet word.


Hoe kan mense help?


1 Raak betrokke
2 Vertel mense van Parys WADER
3 Donasies vir hulpbronne
4 Finansiële donasies


Die gemiddelde Kolgans kuiken neem omtrent 6 maande om groot te maak. Dit vra baie baie tyd wat spandeer word aan die kuiken. Van skoonmaak en voer, tot vaardighede aanleer soos hoe om self kos te soek en hoe om te vlieg. As mens al die tyd plus die kostes bymekaar tel om net een kuiken groot te maak, kos dit ‘n gemiddeld van R20 000,

Hoe raak jy betrokke?


1 Whatsapp Marisa Louw by 064 963 5386
2 Webblad https://wader.parys.co.za
3 Facebook https://www.facebook.com/share/18BxruXwxk/

Besoeke aan Parys WADER moet vooraf gereël word. Sou dit nodig wees om ‘n voël in die sorg van Parys WADER te plaas, is dit noodsaaklik dat jy eers Parys WADER sal kontak om die nodige reëlings te tref.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button