Nonnetjiesuil uit skoorsteen gered
Naas die rehabilitasie fasiliteit fokus Parys WADER op bewusmaking veral rondom wildevoëls.
‘n Volwasse nonnetjies wat uit ‘n skoorsteen gered is, is onlangs in die sorg van Parys WADER geplaas. Die mense wat tot die nonnetjies uil se redding gekom het, het onlangs in hul nuwe huis ingetrek en bewus geword van ‘n onaangename reuk. Toe hul ondersoek instel, het hulle dié Nonnetjiesuil gekry, sowel as ‘n kleiner uil wat reeds dood was.
Professionele advies is ingewin, en is die volwasse Nonnetjiesuil oornag warm gehou, waarna hulle die 60km na Parys afgelê het om die uil na Parys WADER te bring. Die uil se toestand is stabiel en sal vir die volgende paar dae noukeurig gemonitor word, vertel Marisa Louw van Parys WADER.

“Met brandstofkoste wat toenemende druk op huishoudings plaas, waardeer ons hul toewyding om seker te maak dat hierdie uil professionele sorg ontvang,” het Louw gesê.
Parys WADER het tans 14 pasiënte in hul sorg waaronder drie uile, ‘n blouvalk, ‘n hadeda, geelbekeend en kolganse.
Besoekers by Parys WADER
Lede van Villa Riviera se breiklub het onlangs by Parys WADER besoek afgelê. Tydens ’n opvoedkundige gesprek en begeleide toer het die groep meer geleer oor wat ná die redding van ’n wildevoël gebeur, en waarom elke voël verskillende versorging nodig het.


Die dames het ook meer handgebreide nessies vir Parys WADER se kleinste geveerde pasiënte oorhandig. Nonna, die rehabilitasie fasiliteit se ambassadeur, was daar om dié besondere oomblik met hulle te deel.
Later dieselfde dag het drie graad 6-leerders van Primêre Skool Parys twee sakke kos vir die voëls in Parys WADER se sorg afgelewer.
Op 11 September het Parys WADER gaan kyk hoe dit gaan met die jong uil wat twee dae tevore by NG Kerk Parys-Suid met sy ouers herenig is, en wil dit lyk asof dit baie goed gaan met die uil.

Jeuglede wat vir Bybelstudie op die kerkterrein bymekaar was, het tydens Parys WADER se opvolgbesoek die geleentheid gekry om die jong uil en sy familie te sien.

Marisa Louw van Parrys WADER vertel dat geleenthede soos hierdie graag deur die organisasie benut word om mense van alle ouderdomme meer oor wildevoëls te leer, en het die afgelope maand se interaksie met die gemeenskap gewys hoe oud en jonk betrek kan word by die bewusmaking van wildevoëls.



