Vrystaatse rekenmeester vas ná sy glo R24m se maatskappygeld uitdobbel
Die saak sal weer op 20 Januarie deur die hof aangehoor word.
’n 41-Jarige geoktrooieerde rekenmeester van Bloemfontein, Elrine Jacobs, is Vrydag (20 November) in hegtenis geneem nadat sy na bewering meer as R24 miljoen van ’n nie-winsgewende maatskappy se fondse op aanlyn dobbelary uitgegee het.
Jacobs het dieselfde dag in die Bloemfonteinse Landdroshof verskyn op aanklagte van bedrog, die uitreik van vervalste dokumente en geldwassery. Sy is op borgtog van R50 000 vrygelaat. Die saak is tot 20 Januarie 2027 uitgestel.
Volgens polisiewoordvoerder luitenant-kolonel Zweli Mohobeleli het Jacobs na bewering tussen Februarie en September 2025 aanlyn dobbeltransaksies op die platforms Hollywood Bets, Betway en Lotto Star aangegaan.
Om haar beweerde dobbelary moontlik te maak, het sy na bewering die uitvoerende hoof van die maatskappy se elektroniese handtekening sonder toestemming gebruik om geld op bedrieglike wyse uit die maatskappy se kredietkaartrekening oor te plaas.
Sy het ook na bewering vals finansiële state voorgelê.
Die saak is by die Ernstige Handelsmisdaadondersoekeenheid in Bloemfontein aangemeld, waarna ’n lasbrief vir haar inhegtenisname uitgereik is.



