Geen nuwe BKS-gevalle vir die VS vir 6de week agtereenvolgens
Negentig persent van die land se veekudde is nou ge-ent teen Bek-en-klouseer.
Die Vrystaat-provinsie het sedert 16 Oktober nog geen nuwe gevalle van Bek-en-klouseer gerapporteer nie. In die jongste syfers van die provinsie se Departement van Landbou, Landelike Ontwikkeling en Ekonomiese Sake wat op 20 November vrygestel is, bly die Vrystaat se totale bevestigde aantal gevalle van BKS steeds onveranderd op 804 gevalle.
Hiervan is 801 gevalle suksesvol afgehandel met kwarantyn wat opgehef kon word na die suksesvolle toepassing van beheermaatreëls het die departement gesê.
BKS is tot op hede in 19 van die provinsie se plaaslike munisipale gebiede aangemeld. Kroonstad (Moqhaka Munisipaliteit) het die meeste bevestigde gevalle gehad (127), gevolg deur Heilbron (Ngwathe) met 98 gevalle. Sasolburg (Metsimahole) het 64 gevalle. Smithfield (Mohokare en Manguang) het die minste gevalle gerapporteer (23).
Die Minister van Landbou, Willie Aucamp, het die afgelope week bevestig dat 90% van die nasionale veekudde nou teen bek-en-klouseer (BKS) ge-ent is. Minister Aucamp het die persentasie as ’n belangrike mylpaal beskryf in die land se poging om die siekte te beheer en die nasionale veekudde te beskerm.
In die Vrystaat is teen verlede week ‘n totaal van 1 739 007 vee die eerste keer ge-ent met die Biogenesis Bago en die Dollvet vaksines as deel van die nasionale risiko-gebaseerde vaksineringstrategie. ‘n Verdere 34 383 beeste is deur boere self ge-ent wat die provinsie se totale getal ge-ente vee op 1 773 390 te staan bring.
Vaksinering gaan voort in ooreenstemming met die Nasionale BKS-beheerstrategie met prioriteit wat gegee word aan geinfekteerde persele en aangrensende plase, asook epidemiologies-gekoppelde eiendom en ander hoë risiko gebiede wat deur veeartsenykundige risiko assesserings bepaal is.

Aansoeke is ook steeds oop vir vaksinering en ontvang die departement deurlopend aansoeke.
Die departement het weer benadruk dat hoewel alle aansoeke nie met die oorspronklike aanvangfase van die inentingsprogram geakkommodeer kan word weens beperkte beskikbaarheid van entstof en die nodigheid om hoë risiko gebiede te prioritiseer, boere aangemoedig word om aansoek vir vaksinering teen BKS te doen omdat dit die departement help met die beplanning van entstof allokering en toekomstige entingsveldtogte.



