
Parys se parkrun kom einde ten laas uit die wegspringblokke op Saterdag, 9 Oktober om ná ‘n jaar en ‘n half, weer dié gewilde Saterdagoggend 5km stap/draf vir die publiek aan te bied. Dié parkrun sal voortaan bekend staan as die Egweni River Lodge parkrun. Volgens Monica Muller, plaaslike parkrun ‘event director’, is die oorspronklike roete gewysig om nie meer die Mimosa Tuine as begin- en eindpunt te hê nie, en sal daar nou by Egweni River Lodge weggespring word. Sy het haar dank uitgespreek teenoor Ben van der Merwe vir die beskikbaarstel van die terrein. Daar is parkering binne die perseel beskikbaar.

Die nuwe parkrun roete vir Parys.
In Augustus vanjaar was daar ‘n tweede landwye poging om parkrun weer te begin ná die lang maande van strenger inperkingsregulasies, maar is toe nog net sekere parkruns oopgemaak. Die parkruns wat eerste heropen het, was meestal kleiner parkruns weg van groter metropolitaanse gebiede. Parkrunners is toe ook gevra om nie na ander parkruns te gaan wat oopgemaak het nie, om deelnemersgetalle laag te hou en die nodige Covid-19 protokol te handhaaf. Omdat Parys parkrun toe nog gewag het op goedkeuring van die aangepaste roete deur parkrun-direkteur, Bruce Fordyce, moes Parys sy beurt afwag. Nou het dit uiteindelik tyd geword vir oud en jonk, fiks en minder fiks, om die tekkies nader te trek en weer vanaf 9 Oktober, elke Saterdagoggend vanaf 08:00 te kom saam stap of draf. Jy kan vooraf op die parkrun webtuiste registreer sodat jou tye aangeteken kan word, en jy ‘n geregistreerde deelnamenommer kan kry. Hierdie is ‘n ideale gesinsaktiwiteit, of sommer net ‘n geleentheid om die heerlike warmer temperature en die ongelooflike natuurskoon van die omgewing te waardeer al langs die roete waar dit teen die Vaalrivieroewer langs kronkel. Hou gerus die parkrun Facebook-blad dop vir meer inligting of stuur e-pos na egweniriverlodge.com
Hoe registreer jy vir parkrun?
Registrasie is gratis en sodra jy registreer kry jy ook jou strepieskode (barcode) wat jy self uitdruk en saamneem wanneer jy ‘n parkrun doen. Jy kan aan enige parkrun op enige plek ter wêreld deelneem. Registrasie is egter nie ‘n vereiste vir deelname nie, maar help jou om rekord te hou van jou deelname en tye.
Wat is parkrun?
parkruns word elke Saterdag om 08:00 aangebied op verskillende plekke as ‘n gratis geleentheid vir stappers/drawwers van alle ouderdomme. Alle parkruns is uitgewerk volgens ‘n 5km roete. parkrun is wat ookal jy daarvan wil maak. Of jy die volle 5km roete voltooi, of net ‘n gedeelte daarvan. Of jy elke week deelneem, of net soos wat jou tyd dit toelaat. Of jy wil stap of draf, jou honde wil saamneem, dit saam met jou kinders wil aanpak – die keuse is joune. Honde moet egter aan leibande wees en stootkarretjies is welkom op die roete. Die belangrikste is om te onthou dat parkrun in ‘n ontspanne atmosfeer gedoen word, met geen druk op deelnemers nie. As jy geregistreer is sal jy wel ‘n e-pos ontvang met terugvoer oor detail van jou deelname, en op die parkrun-webtuiste is ‘n rekord van jou vordering, Waar jy deelgeneem het, hoeveel parkruns jy voltooi het, ensovoorts.





