Tot hiertoe en nie verder nie! Krities bekyk ek die hopies nuutverkrygde kledingstukke. Wat op aarde het my laat dink dat ek dit nodig het?
Ek wend my tot google en die slim masjien sê dit kan die oorsaak wees van ’n ewige soeke na geluk, of aanvaarding of blote verveeldheid en nog ’n hele rits redes. Wikipedia sê dat die primêre doel van sulke aankope die verbetering van die aankoper se gemoedstoestand is. My impuls-aankope word troos aankope genoem en dit dien skynbaar diesefde doel as trooskos.
Gefassineerd lees ek verder: “In klein, beheerbare dosisse streel dit die siel.” Toe word my oë groot van skrik! Net soos alkohol kan ’n mens glo verslaaf raak daaraan. “Het ek al daardie perk oorskry?” wonder ek benoud. Genoeg is genoeg. So ontdek ek Projek 333 wat my uitdaag om vir ’n hele 3 maande met net 33 klere-items in my kas oor die weg te kom. En my eksperiment met ’n kleiner klerekas spring weg.
Noodgedwonge moes ek die belangrikste, veelsydigste en mees geliefde kledingstukke kies. Ek het angstig gewonder hoe op aarde ek gaan oorleef. Toe gebeur die ondenkbare! Ek begin verfrissend anders na my kas kyk. Die kuns in my kom na vore gekom en ek vind dit waarna ek nog altyd soek. My persoonlike styl! Skielik het ek meer tyd, minder wasgoed en ’n indrukwekkende bedrag gespaarde note aan die einde van elke maand.
Saam met enige troosaankope, moes my oorvol klerekas ook waai. Ek voel vreeslik verleë as ek terugdink aan die hoeveelheid tyd, geld, energie en aandag wat ek aan klere afgestaan het.
Projek 333 het my laat besef dat vroulike wesens grense nodig het. Probeer dit, jy het niks om te verloor behalwe ’n oorvol klerekas. Ek daag jou uit!