Home & GardenLifestyle

Tuinmaak: Die mooi van eenvoud

Tuinmaak: Die mooi van eenvoud

   

 

Ons het verlede week gesels oor hoe goed tuinmaak of selfs net tyd spandeer in jou tuin is. Vandag gesels ons oor die onderhoubaarheid van ’n tuin. In vandag se tye waar tyd kosbaar en min is, water meestal skaars, en plante duur, moet ons ons tuine en beddings mooi oordink. Ons almal droom van ’n tipiese Engelse tuin – vol kleur, rose, groen loof, wegkruiphoekies en paadjies, ’n skatkis ontdekking in elke tree…voëltjies wat kwetter, skoenlappers wat wapper, maar ongelukkig is die realiteit nie so “rooskleurig” nie. Parys se erwe is massief groot. Elke dag verwonder ek my aan die beddings en die oorsprong daarvan. Meestal is die beddings oorvol geplant – Irrisse, Agapanthus, daglelies, ornamentele grasse…plant op plant.

En dit kan werk mits jy ’n tuinier het wat elke dag sy hand op jou beddings hou, of as jyself nog daagliks kan grou in die grond. Om met valk oë daardie beddings dop te hou en met die eerste groen blaartjie van ’n onkruid, dié onmiddelik te verwyder…om wilde gras summier uit te trek! Van die tuine in ons dorp is geskep deur regte, egte groen vingers. Huise wat al vir geslagte lank aan ’n familie behoort. Elke geslag sit ’n stukkie by. Niemand wil peuter aan oumagrootjie se bedding nie. Ons is sentimentele skepsels. Ons hou vas, en ons word ouer. Die beddings word meer – en meer ’n uitdaging as ’n plesier! Dit is tyd om na meer onderhoubare tuine te beweeg. Dalk is dit nie nodig om 10 verkillende kleure irrisse of daglelies in een bedding te hê nie.

Dalk moet ons eerder ons beddings kleiner maak, en meer eenvoudig plant. Daar is soveel mooi in eenvoud ook. Voëltjies kwetter en skoenlappers wapper graag in eenvoud ook. 

 

 

 

 

     

   

Foto’s: Google Images

 

Met die gedagte aan water wat so skaars raak is dit dalk tyd vir meer plaveisel, meer klipbeddings met geharde vetplante en aalwyne? Ek is ’n groot voorstaander vir ’n gedenkhoekie in ’n tuin vir ’n geliefde, maar ’n gedenktuin kan net so pragtig in ’n mooi pot gemaak word. Volhoubare tuinmaak sit nie in ons elkeen se “vingers” nie, maar ons wil almal die voordele van ’n goed versorgde tuin geniet! “A weed is a plant that has mastered every survival skill except for learning how to grow in rows. ” – Doug Larson “With a few flowers in my garden, half a dozen pictures and some books, I live without envy.” – Lope de Vega, 1562. Kom ons kyk met nuwe oë na ons tuine. Dis tyd om van ons herinneringe weg te pak, ons las bietjie ligter te maak. Kom ons keer terug na die meer eenvoudige dinge van die lewe…Kom ons leef in ons tuine!    

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Parys Gazette in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button