
Die afgelope naweek het AfriForum Parys en inwoners van die A-Blok (Rooidam) buurtwaggroep saam met hul werkers self die moue opgerol om slaggate in dié woonbuurt, maar ook in die dorp se hoofstraat, reg te maak.
Danksy inwoners se bydraes kon een ton teer gekoop word, en het AfriForum nog ‘n ton teer geskenk.
Jaco Taylor, ‘n Pretorianer wat ‘n naweekhuis in Tweedelaan het, het met die inisiatief vorendag gekom om inwoners aan te moedig om te begin om net die teergedeelte voor hul huis in stand te hou.


Jaco Taylor by een van sy bure waar hy in Tweedelaan gate herstel het.
Só het hy sy voorstel op die buurtwag se WhatsApp-groep geplaas, en self ook teer gekoop en in Tweedelaan voor sy huis begin slaggate regmaak. Van die bure het reeds aangedui dat hulle ook sy voorbeeld wil volg.
Nadat AfriForum en A-blok inwoners om die blok gewerk het van Derdelaan tot by Uniestraat, op in Bredelstraat tot by Grensstraat, en terug tot in Derdelaan, het AfriForum Maandag met nog ‘n ton teer slaggate in Allemanweg tot by Paulsenstraat, in Loopstraat, Breëstraat, Dolfstraat en Eerstelaan herstel.
AfriForum Parys is reeds ‘n geruime tyd besig om slaggate in die dorp te herstel en ook om afwesige en verbleikte stoptekens te vervang. As jy ‘n bydrae wil lewer vir die herstelwerk van slaggate wat AfriForum Parys in die dorp se strate doen, kan jy ‘n donasie direk in die AfriForum-rekening inbetaal. Gebruik asseblief die volgende bankbesonderhede: AFriForum NPC, FNB, Centurion, rekeningnommer 623 4989 8398, takkode 261-550. Gebruik die woorde PARYS TEER as verwysing. Jy kan ook vir Jenny by AfriForum Parys by 082 090 2563 skakel as jy afwesige of verbleikte stoptekens wil rapporteer.




