Local newsNews

Militêre helde word onthou by die Voortrekkermonument

Vanjaar het plaaslike politici en militêre attachés van Ghana, Kenia, Botswana, Zambië, Indië, Nieu-Guinee, Ethiopië en Kanada die diens bygewoon.

Honderde weermagveterane en hul families, jonk en oud, het Sondag 26 Mei by die SA Weermagmuur van Herinnering by die Voortrekkermonument (VTM) bymekaargekom om hulde te bring aan Suid-Afrika se afgestorwe militêre helde.

Bykans 600 mense het vanjaar dié gedenkdiens van die Raad van Militêre Veterane Organisasies (RMVO) bygewoon.

Op die muur van herinnering, wat in 2009 by die VTM opgerig is, is 2539 individue se name, waarvan 782 in operasies gesterf het in die Suid-Afrikaanse Weermag.

Stefan Gunter (14) het tydens die gedenkdiens ’n krans namens sy skool, Hoërskool Garsfontein, gelê. Hy vertel dat sy teenwoordigheid hier vir hom veel meer beteken het omdat hy as jong seun kon grootword met die weermagstories van sy pa én oupa.

“Ek is baie lief vir geskiedenis en ek dink dis belangrik om te onthou, maar vandag was ekstra spesiaal omdat my familie ook deel is van die groep mense wat ons vandag onthou,” sê hy.

Nes die jong Gunter het die meeste van die besoekers vanjaar hul krans kom lê ter nagedagtenis van hul geliefdes wat deur die jare in die Suid-Afrikaanse Weermag gedien het en ouder gewoonte is dié geleentheid ’n viering van die ongelooflike nalatenskap van die soldate en hul families.

Genl.maj. Lawrence Smith, voorsitter van die RMVO, het tydens die diens hulde gebring aan sy kamerade en dié wat nie meer hier is nie.

“Vandag onthou ons die mense wat die letsels van die verlede dra. Julle wat saam met daai letsels leef, wéét jou medeveterane en -landsgenote sien dit raak. Die opofferings wat julle gemaak het, en nog daagliks maak, is vir ons belangrik,” sê hy.

Hy het afgesluit met ’n boodskap van hoop en maan dat ons vandag die verantwoordelikheid het om, soos dié voor ons, ons deel te doen om ’n beter toekoms te skep.

“Ons land is uniek en vandag gedenk ons weer as ’n unieke groep mense ons gesamentlike herkoms, soos dit in ons nasionale leuse ‘Diverse people unite’, oftewel eenheid in diversiteit, uitgedruk word. Vandag word ons weer herinner om met ’n positiewe gesindheid ’n beter toekoms vir ons kinders en hul nageslagte te skep.”

Die bekende sportkommentator en TV-aanbieder, Arnold Geerdts, het oudergewoonte die geleentheid aangebied. Vir hom is hierdie geleentheid nie net nog ’n gedenkdiens nie, maar ’n herbevestiging van waar ons land en sy mense vandaan kom én waarheen ons op pad is.

“Hierdie name teen die muur was mense wat vir óns en ons land geveg het. Ek het ’n paar dae gelede gelees dat daar tans ongeveer 110 konflikte regoor die wêreld aan die gang is en dit herinner mens net weer aan die voorreg wat ons het. Hierdie helde het vir ons geveg en die diens het net weer bevestig dat ons steeds moet veg, of dit nou agter ’n lessenaar is, of in die skool, ons almal kan steeds ’n bydrae lewer om ’n beter toekoms te bou.”

Related Articles

Back to top button