Voëlkyk, frustrasie en identifikasie
Voëlkyk, frustrasie en identifikasie

Voëlkyk is ‘n stokperdjie wat miljoene mense regoor die wêreld beoefen en baie geniet. Ook in die Covid-tyd van inperking kon ons dit selfs in ons eie tuine beoefen sonder om iemand die harnas of masker in te jaag. Dit beteken egter nie altyd dat alles voorspoedig verloop nie. Soms gaan voëlkyk gepaard met onverwagte frustrasies. ‘n Goeie manier om seker te maak jy identifiseer ‘n voël korrek, is om foto’s te neem. Met die foto – as hy mooi duidelik is, kan jy dan deur die boeke soek totdat jy die voël kan identifiseer. Indien dit nie werk nie, stuur jy die foto vir ander voëlkykers om hul opinie te kry, ensovoorts.
Theuns Otto het dit onlangs in sy tuin ervaar en hier is sy storie: Ek sit gister laatmiddag op die stoep met koffie. Ek sien ‘n voël op ‘n tak. Hy lyk soos ‘n laksman, maar nie heeltemal nie. Hy vlieg van die tak af na die grasperk Nou is meer kleure sigbaar – bruin sykante en ‘n wit wenkbroustreep op sy swart kop. Ek gaan soek die voëlboek en kry iets soortgelyk – soort van? Gaan haal my klein kamera, kry net twee foto’s geneem en toe die boodskap – battery gedaan, geen krag. Ek draf kas toe vir die groot Nikon en gaan sit weer op die stoeptrap en korrel – niks gebeur nie?? En die voël bly sit!! Ek gaan haal die telefotolens, ruil lense om, korrel —- niks!! Ek kyk ewe vies na die agterkant van die kamera. Daar is geen kaart in die kamera nie!
Dan weer terug na die klein Nikon, verwyder die kaart en sit dit in die groot Nikon. Ek kry uiteindelik ‘n paar foto’s, maar … sy kop bly wegkruip agter ‘n tak. Mooi so!!. Uiteindelik sukses en ek het ‘n foto. Nou terug na die boek, soek en ek kry hom. Die bergklipwagter. Maar o wee. Hy kom volgens die verspreidingskaart in die boek glad nie hier voor nie. Wat nou? Is hy ook ‘n slagoffer van die inperking wat hier vasgehaak het. Daar is tog genoeg kenbare eienskappe wat dit bevestig? Maar is dit hy? Nou is dit tyd “to call a friend”. Ek stuur die foto en antwoord kom terug, jammer dis nie ‘n bergklipwagter nie. Daar is te min bruin op die bors. Dalk die fiskaallaksman met die wit wenkbroustreep maar is daar dalk ‘n foto wat die bek duideliker wys? Maar eintlik kom hy meer na die weste voor. Dus dalk ook nie hy nie. En toe, uitkoms en duidelikheid. Of so het ek gedink. Vriende kom kuier en voëltjie is weer daar en ons identifiseer hom as die Suidelike waterfiskaal. Dankie tog! Nog een vir die lys by die huis en ons hoop hy raak ‘n gereelde besoeker. Maar dalk nog nie reg nie. Die Suidelike waterfiskaal het nie ‘n wit wenkbroustreep nie. Wat nou?
Uit met die kamera en probeer om ‘n duidelike foto te kry. Die kaart is in en die battery is gelaai. Nou net geduldig wag dat hy weer kom kuier en dan sal ons seker maak. “So gaan dit maar baie keer met ons as voëlkykers. Ons sien iets, raak opgewonde, dinge werk nie saam nie maar aan die einde van die dag bly dit ‘n voortreflike stokperdjie, en altyd nog lekkerder as die toerusting gereed is as jy hul nodig het. En dan natuurlik as die voëltjie, soos in Theuns se geval rustig vir jou sit en wag – dan is dit ‘n bonus. Dit gebeur egter net by hoë uitsondering dat hul vir jou gaan wag.”
