NewsNews

Promosa-vrou verloor alles na huis afbrand

“Ek het alles verloor. Ek het net my klere oorgehad wat ek aangetrek het vir werk."

Toe Marjorie Henderson op Vrydagoggend (25 Maart) haar huis van die afgelope 24 jaar in Montanastraat, Promosa verlaat het om werk toe te gaan, sou sy nie kon raai watter verwoesting sy teen middagete moes aanskou nie.

‘n Brand het haar hele huis verwoes met die vlamme wat al haar persoonlike items en toestelle in puin gelaat het. Niemand is tydens die brand beseer nie, aangesien die hele gesin teen die tyd van die brand nie tuis was nie.

Die stoof na die vlamme dit verswelg het.
Marjorie Henderson se huis het Vrydag 25 Maart afgebrand. Sy het alles in die brand verloor. Foto: Wouter Pienaar

“Ek het alles verloor. Ek het net my klere oorgehad wat ek aangetrek het vir werk. Die res is alles weg. Veral persoonlike goed soos sertifikate, ID dokumente, bankstate ens. Mens kan dit nie sommer terugkry nie. My wasmasien, TV en stoof is ook daarmee heen,” vertel Marjorie mismoedig ‘n dag na die brand.

Sy bly saam met haar dogter, Joy (19), en haar broer se kinders, Dino (9) en Ditaba (16).

Marjorie het by haar huis aangekom toe die brandweer alreeds die vlamme geblus het. Sy het nooit die vuur gesien nie, maar sy reken dat die vuur miskien vanuit ‘n foutiewe kragboks kon ontstaan het.

Lede van die Patriotic Alliance in wyk 21 het hande saamgesit en vir Marjorie en haar familie gehelp met benodighede, bemoediging sowel as kos vir die naweek.

Die JB Marks Rampbestuurkommitee het ook twee komberse en twee matrasse tot op hede geskenk, terwyl Marjorie se kerk ook skenkings gegee het om haar las ligter te maak.

“Ek was baie geskok, maar ek weet my geloof sal my dra. Ek kan nou niks doen aan die situasie nie, wat gebeur het, het gebeur,” meen Marjorie.

Volgens Debbie Beukes, wyksraadslid van wyk 21, kort Marjorie-hulle hulp met toiletware, kruideniers, yskas, stoof, klere, komberse, beddegoed sowel as enige ander behoeftige items.

“Ons as die Patriotic Alliance doen wat ons kan om die mense in ons gemeenskap te help. Dit is vreeslik wat gebeur het,” noem Beukes.

Mense wat vir Marjorie en haar gesin wil bystaan kan vir haar dogter Catherine Vers by 084 693 4641 of vir Debbie Beukes by 073 116 1821 skakel.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button