Babaseuntjie veg vir sy lewe teen virusse
Basson, wat vyf maande oud is, het twee weke gelede aanhoudend gebraak en maagwerkings gehad. Hy is nou in die hospitaal op 'n suurstofmasjien.
Die vyf maande oue babaseuntjie, Basson Roode, veg vir sy lewe in die hospitaal nadat hy met RSV (respiratoriese sinsitiale virus), sowel as Covid-19 en bronchiolitis, gediagnoseer is.
Basson is op Maandag, 29 Junie, na die hospitaal gehaas en is tans besig om die beste mediese sorg te ontvang, nadat hy die vorige twee weke nie van sy siektes tuis herstel het nie.
“Hy is tans afhanklik van suurstofondersteuning en om jou baba so te sien veg om asem te haal, is iets wat geen ouer ooit wil beleef nie. Ons fokus is elke dag net daarop dat hy sterker moet word, maar die mediese kostes bou intussen vinnig op,” noem sy ma, Elizca Stemmet.

Volgens haar is dit belangrik bewusmaking te skep oor hoe ernstig RSV en Covid tans in Potchefstroom is. Baie mense besef nie hoe vinnig hierdie virusse klein babas en kinders kritiek siek kan maak nie.
Elizca vertel dat die eerste simptome gewys het toe Basson sowat twee weke gelede vreeslik begin braak het. Sy maag het ook daardie Donderdag begin spoel.
“Die dokters het eers gedink dat dit gastro-enteritis kan wees. Hy het nie beter geword nie en ek het gevoel dat daar iets ernstiger moes wees. Die Sondag het die medikasie begin werk vir sy loopmaag, maar sy bors het begin toetrek,” noem sy.
Teen Maandagoggend het dit gelyk of Basson beter raak, maar teen Maandagmiddag het sy koors tot 39 °C gestyg.
“Maandag, toe ek ná werk by die huis kom, het iets nie reg gelyk nie. Toe ek sy koors neem, was dit 39 °C. Dit is toe dat ons ongevalle toe is.”
Dit is nou die sewende dag dat Basson in die hospitaal is, waar sy ouers aanhoudend vir sy genesing bid.
“Hierdie week was een van die moeilikste van my lewe. Ek het nie net gebid nie. Ek het moedeloos, stukkend en gedaan aan die Here se voete vasgeklou. Daar was oomblikke waar die trane harder as die woorde gevloei het. Oomblikke waar ek gewonder het hoe ons nog ’n dag gaan deurkom.”

Daar is egter ’n paar ligpunte te midde van al die beproewinge, aangesien Basson se suurstofondersteuning van 16 liter na 8 liter verminder is.
“Ons weet daar is nog ’n pad om te stap, maar elke klein oorwinning herinner ons daaraan dat God steeds besig is om Sy hand oor Basson te hou,” meen Elizca.
“Hierdie week het my weer geleer dat jou geloof beproef sal word. Dit beteken nie jy gaan nie moed verloor of huil nie. Dit beteken nie jy gaan altyd sterk voel nie. Maar dit beteken dat jy, selfs wanneer jy nie meer kan staan nie, aan God se voete kan bly vasklou. Want selfs wanneer ons nie Sy plan verstaan nie, bly Hy getrou.”
Basson het nog baie finansiële hulp nodig, met mediese kostes en na-hospitaalkostes wat na raming tot R100 000 kan beloop. Die gemeenskap kan Basson en sy gesin help met ’n skenking op hul BackaBuddy-blad.



