Die Suid-Afrikaanse Meestershokkiespan (oor 40) gaan hul titel as kampioen vanaf 23 Julie tot 1 Augustus in Rotterdam, Nederland, verdedig.
Een van die spanlede is die Potchefstromer, Jardus Smith, wat in 2024 die soete smaak van bekersukses in Kaapstad geproe het en weer daardie gevoel in Nederland by die 2026 Wêreldmeestershokkietoernooi sal wil ervaar.
Suid-Afrika het daardie dag vir Australië met 3-1 geklop.
“Ons moet ons titel verdedig, so ek sien uit daarna om weer deel van die toernooi saam met die Wildehonde te wees,” noem Jardus.
Die Suid-Afrikaanse Mansmeestershokkiespan staan bekend as die Wildehonde en hulle gaan beslis hul byt wil wys teen 19 ander mededingende lande.
Suid-Afrika begin hul toernooi teen die VSA voordat hulle teen Singapoer, Sri Lanka en Ierland te staan kom.
Jardus, wat in 2001 aan Hoërskool Wesvalia gematrikuleer het, se hokkiereis het in 2002 as eerstejaarstudent in Potchefstroom begin. Hy het tot op 34-jarige ouderdom vir die NWU-Hokkieklub gespeel. Daarna het hy kennis gemaak met meestershokkie omdat hy steeds die sport wou beoefen.
“Die kompetisie is groot en die intensiteit is hoog. Dit is lekker om fiks te kan bly en ook as ’n span aan groot toernooie te kan deelneem. Nog ’n bonus van meestershokkie is dat jy ’n verskeidenheid interessante mense ontmoet met dieselfde liefde vir die spel.”
Jardus noem ook dat die vlak van hokkie in Suid-Afrika op jonger ouderdomme groei, terwyl daar ook groot belangstelling in meestershokkie onder ouer spelers is.
“Dit was spesiaal om ouens in ons span te sien wat voorheen aan die Olimpiese Spele deelgeneem het. Om saam met hulle sukses te behaal, was baie lekker.”
Spelers word vir die Suid-Afrikaanse Meestersspan gekies nadat hulle by die Interprovinsiale Toernooi (IPT) presteer het. Daarna woon spelers oefenkampe by om vir die Wêreldkampioenskap voor te berei. Tydens die kampe speel hulle teen mekaar en bou ook aan die spaneenheid.
Jardus is doelgerig om weer die titel te lig – hierdie keer in Nederland op Saterdag, 1 Augustus.



