Local newsNewsNews

Halfpad Huistoe wys NWU Thalia se toneeltalent

Die toneelspel het die gehoor laat lag en laat nadink oor die absurde, sowel as die egte eienskappe van hierdie uiteenlopende groep karakters.

Die NWU Thalia Kunstevereniging se toneelgroep het die afgelope week, vanaf 15 tot 16 Julie, ‘n dramadie getiteld Halfpad Huistoe opgevoer wat ‘n interessante blik op genesing en selfontdekking gebied het.

Hierdie toneelstuk was albei aande by die Cachet Kleinteater op die Bult uitverkoop en met goeie rede.

Die toneelspel het die gehoor laat lag en laat nadink oor die absurde, sowel as die egte eienskappe wat die uiteenlopende groep karakters in die Bergwind Psigiatriese Inrigting uitbeeld.

Al hierdie karakters is ná ‘n fabriekontploffing bymekaargebring wat almal se lewens ingrypend verander het. Hoe elkeen die trauma verwerk, die chaos hanteer en mekaar leer verstaan, vorm deel van die sleutelelemente van Halfpad Huistoe. Die vraag bly waar hoop gevind word en hoe die stukke weer opgetel kan word.

Halfpad Huistoe was ‘n puik toneelstuk wat die NWU Thalia Toneelgeselskap opgevoer het.

Een van die beste elemente van hierdie toneelstuk was die akteurs se oog vir die fynere detail wat elke karakter uniek gemaak het. Die gehoor kon hulself sodoende inleef in elke karakter se storie en hoe hulle hulself en die ander “pasiënte” sien. Kort hul hulp of is Dr. Ruan die een met die probleem?

Danelle Chereé Titus het die regie behartig. Titus, Hendro Strydom, Godwill Christian en Dineo Modungwa het ook aan die teks geskryf, met Whaden Johannes wat die verwerking behartig het.

Jordan Karsten het die rol van skoonheidsprinses “Kayla” gespeel en Lara van Wyk was die filosofiese “Anja”.

Die akteurs wat hierdie toneelstuk op die verhoog laat leef het, is Riandi Hattingh, Anton Meyer, André Meyers, Hendro Strydom, Jordan Karsten, Chanté van Wyk, Cathlyn Pienaar, Frans Botha, Elzaan Reinecke, Goitsemodimo Khumalo, David van der Ruyst, Jason Brand, Vinasia Marx, Godwill Christian, Jeanri Nel en Thato Lekota.

Unicka Bothma, voorsitter van die NWU Thalia Kunstevereniging, noem dat die terugvoer vir Halfpad Huistoe positief was en dat dit bewys wat hierdie studentegeselskap kan vermag.

“Dit was een van Thalia se grootste suksesse vanjaar. Ek is gerus en tevrede met Thalia se groei en ek is opgewonde om te sien hoe Thalia in die volgende paar jaar nóg groter gaan word. Dit is lekker om te sien hoeveel talent daar op kampus onder die studente is,” vertel sy.

Agtergrond oor Thalia

Dit is vanjaar ook die 80ste bestaansjaar van die NWU Thalia Kunstevereniging, die oudste kunstevereniging van die Noordwes-Universiteit.

In dr. Lennie Gouws se boek, PUK-Kunste – Die geheim agter die gordyn, is daar heelwat interessante feite en staaltjies oor Thalia, die oudste kunstevereniging by die NWU, wat vanjaar 80 jaar oud is.

Die naam “Thalia” dateer uit 1951. In die Griekse mitologie is Thalia die muse van komedie en idilliese gedigte. Die 1975-program beskryf Thalia as die muse van blydskap. “Hierdie voortreflike eienskap leef vandag nog voort in die Thalia-toneelvereniging.”

“Die studentebestuur, onder leiding van NWU Kunste, behartig steeds self al die organisering, toneelspel, dekor en regie,” sê Jaco van der Walt, hoof van NWU Kunste.

Thalia het vroeër vanjaar hul eerste produksie in Potchefstroom opgevoer en daarna met dieselfde stuk ‘n draai in Bloemfontein gemaak.

“Wat bydra tot die NWU se opwindende studentelewe, is dat studente nie drama of musiek hoef te studeer om deel te wees van die koor-, dans- of toneelverenigings nie. Enige student, of hy of sy nou regte of aptekerswese studeer, kan deel vorm van die georganiseerde studenteaktiwiteite wat aangebied word,” noem hy.

Om deel van Thalia te wees, slyp ook studente se toneelvaardighede, maar leer hulle terselfdertyd belangrike vaardighede soos tydsbestuur en beplanning, wat weer lei tot beter probleemoplossing en groter selfvertroue.

“Elke toneelstuk wat die studente aanpak, is ‘n waagstuk. Vir party studente is dit die eerste keer dat hulle die verhoog betree, en dit is deel van hoe die universiteitslewe studente slyp en vorm,” vertel Van der Walt.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button