Local newsNewsNews

Luiperds neem afskeid van Coach Franklin Jackson

Met sy afsterwe neem die Luiperds nie net afskeid van ’n bekwame rugbyafrigter nie, maar van ’n man wat oor jare heen diep spore in die harte van spelers, kollegas en die breër rugbygemeenskap getrap het.

Vir sommige mense is ’n afrigter iemand wat langs die veld staan, taktiek uitdink en spelers leer hoe om ’n wedstryd te wen.

Vir die Luiperds Rugbyfamilie was Coach Franklin Jackson egter soveel meer.

Met sy afsterwe neem die Luiperds nie net afskeid van ’n bekwame rugbyafrigter nie, maar van ’n man wat oor jare heen diep spore in die harte van spelers, kollegas en die breër rugbygemeenskap getrap het.

Coach Franklin, wat 52 jaar oud was en vanjaar 53 sou word, laat sy vrou van 30 jaar, ses kinders en agt kleinkinders agter. Hy laat ook sy ma en pa, twee broers en twee susters, asook ’n groot kring familie, vriende, spelers en kollegas agter wat hom diep sal mis.

Coach Franklin se liefde vir rugby en sy passie vir die ontwikkeling van spelers het oor meer as ’n dekade deel geword van die Luiperds Vrouespan se storie.

Hy was die hoofafrigter van die Luiperds Vrouespan sedert die span se ontstaan in 2013 en het die span oor ’n indrukwekkende 13 jaar afgerig. Gedurende dié tyd het hy die span twee keer na die Vroue Eerste Divisie-titel gelei.

2026 was besonder betekenisvol, aangesien Coach Franklin aan die begin van die jaar sy amptelike aftrede aangekondig het. Dit sou sy laaste jaar as afrigter van die Luiperds Vrouespan wees, ’n afskeid wat niemand kon voorsien uiteindelik só sou lyk nie.

Sy rugbyloopbaan het egter veel verder as die Luiperds Vrouespan gestrek.

Hy het ook die Luiperds O/21-mansspan en Luiperds Plattelandspan afgerig, as hulpafrigter by die destydse Vaal Reefs opgetree, en vir baie jare as hoofafrigter van Potch Tigers gedien. Hy was ook op ’n stadium betrokke as afrigter tydens die Iqhawe-week.

Maar sy grootste nalatenskap kan nie in wedstrydtellings, titels of trofeë gemeet word nie.

Dit lê in die mense.

In die spelers wat hy gevorm het. In die jongmense in wie hy geglo het. In die geleenthede wat hy geskep het. En in die liefde vir rugby wat hy aan soveel ander oorgedra het.

Vir Nadine van Reenen, wat vanjaar as spanbestuurder van die Luiperds Vrouespan dien, is Coach Franklin se invloed op haar lewe veel dieper as dié van ’n afrigter.

Sy het van 2014 af tot vanjaar onder hom gespeel.

“Coach Franklin was ’n man so na aan God se hart,” vertel sy.

“Hy het altyd vir ons gesê dat hy ‘blessed and highly favoured’ is wanneer ons hom gevra het hoe dit met hom gaan. Hy het altyd God se liefde oor ons uitgespreek.”

Volgens Nadine was dit juis sy omgee-geaardheid wat hom vir so baie mense besonders gemaak het.

“Hy het altyd moeite gedoen om by jou as mens in te loer en te vra hoe dit met jou gaan, met die werk, die lewe, die kinders en alles rondom jou. Hy was ’n omgee-coach. Hy het nie net geraas nie, hy het jou ook gehelp.”

Coach Franklin was iemand wat sy kennis graag gedeel het, sê sy.

“Hy was ’n mens wat ander wou ‘equip’ en leer sonder om enigiets terug te verwag. Hy was altyd gereed met ’n opbouende antwoord en het ’n geaardheid gehad wat lief was vir mense, sy mense en sy spelers.”

En natuurlik sal sy spelers nie net sy lesse onthou nie, maar ook die unieke sêgoed wat mettertyd deel van die span se identiteit geword het.

“Sorry speel nie saam nie,” was een van sy bekende uitdrukkings.

Dan was daar sy woorde wat spelers telkens herinner het om nooit tou op te gooi nie:

“If you cannot run, you walk. If you cannot walk, you crawl. You never stop moving.”

Maar dalk lê een van Coach Franklin se grootste lesse in iets eenvoudiger as rugby.

Hy het sy spelers aangemoedig om mekaar lief te hê, mekaar te vertrou en mekaar te respekteer.

Want vir hom was ’n span wat werklik saamstaan, reeds ’n wenner, ongeag wat die telbord sê.

Die Luiperds Rugbyfamilie het hul innige meegevoel aan Coach Franklin se familie, vriende, spelers, kollegas en almal wat die voorreg gehad het om saam met hom hierdie rugbyreis te stap, betuig.

“Dankie vir u jarelange diens aan Luiperds-rugby, Coach,” lui die Luiperds se huldeblyk.

“U het u merk gemaak. U nalatenskap leef voort.”

En dalk is dit presies hoe ’n mens soos Coach Franklin onthou moet word.

Nie net as die man wat langs die rugbyveld gestaan het nie, maar as die man wat mense langs die pad opgetel het.

Die man wat geglo het in sy spelers.

Die man wat hulle geleer het om aan te hou beweeg, selfs wanneer hulle nie meer kon hardloop nie.

Maar bo alles, ’n man wat vir 30 jaar ’n eggenoot was, ’n pa van ses, ’n oupa van agt en ’n seun, broer, vriend en mentor vir talle ander.

’n Afrigter, mentor, vriend en gelowige man wie se invloed lank ná die laaste fluitjie sal voortleef.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button